Man van Calitzdorp kry agt jaar vir aanranding

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Bergsig, Calitzdorp wat  ’n jongman van Warmbad in sy slaapkamer met ’n skerp voorwerp in die gesig gesteek het, is in die Oudts­hoorn Streekhof aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind en tronkstraf van agt jaar opgelê.

Tom Jacobs (27) het reeds nege vorige veroordelings teen hom gehad.

Die hof het bevind dat Jacobs die aand van 12 Mei 2017 by die woning van die klaer, ’n 15-jarige seun, aangekom en na die slaapkamer gegaan het waar hy die seun in die gesig gesteek het terwyl hy gelê en slaap het.

Jacobs het ontken dat hy die klaer gesteek het.

Volgens hom het die seun na hom gesteek waarna hy uit selfverdedi­ging ’n glas na hom gegooi het.

Marcelino Gordon van die Wes-Kaapse Ambulansdienste het tydens die hofsaak getuig dat hy ’n skellery en stryery met sy aankoms op die toneel gehoor het en toe hy iemand met ’n mes sien aankom het, vir sy eie veiligheid weggery.

Hy het die klaer die volgende oggend gaan haal en hospitaal toe geneem.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Jacobs toon geen berou  nie, terwyl die klaer se gesig vol letsels is en hy nou  skaam is vir meisies.

Volgens Boks was daar te veel inherente onwaar­skynlikhede in sy getuienis en het hy dit as leuenagtig verwerp.

“Daar was geen aanval op die beskuldigde nie, hy roep nie enige getuies nie en is nie ’n eerste oor­treder nie, het die landdros bygevoeg.

Die hof het egter wel bevind dat 10 jaar tronkstraf soos deur die staat versoek, nie gepas sal wees nie en Jacobs tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis.

Drie jaar hiervan is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.