Die impak van ’n volgelaaide vragmotor wat in Julie in die Swartbergpas beland het, strek veel verder as koring en diesel wat in ’n waterbron beland het.
Meer as 50 mense sit tans sonder hul gewone bruikbare drinkwatervoorraad, terwyl vee, gewasse en ander plaasbedrywighede ook geraak word. Die kwessie is deur die Kangovalleie Landbouvereniging onder Die Hoorn se aandag gebring.
Die vragmotor, wat koring vervoer het en sowat 800 liter diesel aan boord gehad het, het na bewering omstreeks 03:00 op 16 Julie die Swartbergroete na die N1 probeer volg toe dit by die eerste draai op die grondpad te veel spoed opgebou het.
Die agterste sleepwa het eerste in ’n sloot beland en daarna die res van die vragmotor saamgesleep. Dié sloot vorm deel van die waterbron wat die plase Aalwyn Kop en Voorbedacht van water voorsien.
Hoewel die dieselbesoedeling aanvanklik die grootste probleem was en volgens David Malan van Aalwyn Kop aangespreek is, het die koring wat in die waterloop beland het intussen begin gis en ontbind.
“Die koring is besig om te gis en dit lok die bobbejane. Hulle mis nou ook in die water en dit maak die probleem net erger,” het Malan gesê.
Die bobbejane wat deur die koring gelok word, laat volgens die inligting wat aan Die Hoorn verskaf is ook vuilgoed en ontlasting in die gebied agter, wat verdere besoedeling en algegroei veroorsaak.
Toe Die Hoorn die gebied Dinsdag besoek het, het ’n skerp, onaangename reuk van die besoedelde water reeds met aankoms gehang. Dieselfde reuk was ook duidelik waarneembaar by die dam waarin die water invloei.
Malan is bekommerd dat E. coli-vlakke in die water kan styg, veral omdat plaaswerkers en hul gesinne ook van die waterbron afhanklik is.
“’n Mens is bang iemand raak uit nood gedwing om van die water te gebruik en word dan siek.”
Volgens Malan weier die vee ook om die water te drink.
Die ontbindende materiaal het intussen ’n dik slyk in die waterstelsel begin vorm, terwyl algegroei die toestand van die water verder vererger. By een van Malan se twee damme is daar reeds ’n laag slyk op die bodem. Die slyk veroorsaak ook ernstige probleme by die filters van die plaas se waterstelsel.

“Dit raak amper soos sement by die filters. Jy kan dit nie alleen los nie en dit moet basies elke uur skoongemaak word,” het Malan gesê.
Dit beteken dat werknemers wat normaalweg met ander plaaswerk besig sou wees, voortdurend tyd aan die waterprobleem moet afstaan.
Malan boer hoofsaaklik met sowat 16 hektaar amandels. Daar is ook vee en ander bedrywighede op die plaas, terwyl sy knoffelfabriek ook deur die waterprobleem geraak word.
Aanplantings van lente-uie en wortels word ook geraak, met besproeiingslyne wat weens die besoedeling en ontbindende materiaal verstop.
“Dit gaan nie net oor die boerdery nie. Die daaglikse huishouding word ook geraak – wasgoed, stort, kosmaak. Alles het water nodig.”
Meer as 50 mense wat van die waterbron afhanklik is, sit tans sonder hul gewone drinkwatervoorraad en vars water moet vanuit Oudtshoorn aangery word.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het volgens Malan na die ongeluk met die dieselbesoedeling gehelp en voorsien van tyd tot tyd sowat 5 000 ℓ water aan die gebied. Daar is egter nie ’n vaste rooster waarvolgens water afgelewer word nie.
Malan sê hy het nog nie die volle finansiële impak van die situasie bereken nie, maar die aankoop van ekstra water het reeds aansienlike koste meegebring.
Sy grootste bekommernis is egter die komende somer. Die dam waarin die besoedelde water invloei, bevat water wat eintlik deel van Aalwyn Kop se voorraad vir die komende maande moet vorm. Indien die dam uitgetap en skoongemaak moet word, verloor die plaas die opgegaarde water.
“Water is broodnodig. As ek nou my dam moet uittap en skoonmaak, gaan dit vorentoe ’n groot impak hê. Wanneer die somer tref, sit ons met ’n groot probleem, want die water wat nou daar is, moet ons eintlik dra.”
Volgens Malan is daar op hierdie stadium nog nie ’n realistiese langtermynoplossing nie. Een moontlike oplossing wat ondersoek word, is om sowat 600 m PVC-pyp aan te lê om die besoedelde gedeelte van die waterbron te omseil. Die hoofwaterlyn na Voorbedacht sal ook ontsmet moet word voordat dit weer veilig gebruik kan word.
Die vervoermaatskappy aan wie die vragmotor behoort, is volgens Malan reeds gekontak. Hy sê die eienaar het hom aangeraai om met die maatskappy se versekeringsmakelaar in verbinding te tree, waarna hy meegedeel is dat die betrokke skade nie deur die versekering gedek word nie.
Die Hoorn sal die vervoermaatskappy en ander betrokke rolspelers vir verdere kommentaar nader. ’n Opvolgberig oor die reaksie van die betrokke partye en moontlike oplossings sal volg.

Swaar verkeer skep verdere gevaar
Die voorval plaas ook opnuut die kollig op swaar vragmotors wat die Swartbergpas gebruik.
Volgens Abri Ferreira van die Oudtshoorn Besigheidskamer word die pas tans ook as noodtoegang gebruik terwyl Meiringspoort gesluit is. Verskeie GPS-stelsels stel die Swartbergpas volgens hom as alternatiewe roete voor.
Die historiese Swartbergpas is ’n Provinsiale Erfenisterrein en lê binne ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Met Meiringspoort wat steeds weens vloedskade gesluit is, dra die pas tans ook meer verkeer as gewoonlik.
Die Swartbergpas se belangrikheid strek egter verder as sy rol as skilderagtige bergroete. Dit bied toegang tot Gamkaskloof, oftewel Die Hel, en speel ’n belangrike rol in toerisme, akkommodasie en plaaslike ondernemings wat van besoekers aan dié deel van die Karoo afhanklik is.
Indien die pas gesluit moet word omdat ’n vragmotor vasval of herwin moet word, is die gevolge dus veel groter as bloot die ongerief wat motoriste ervaar.
Die pas is smal, het skerp draaie en steil gedeeltes en is nie geskik vir swaar vragmotors of vragmotors met sleepwaens nie.
Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het padgebruikers reeds versoek om die lengte- en gewigsbeperkings op die pas streng na te kom.
Ferreira meen vervoermaatskappye kan dit oorweeg om ’n geofence op hul vlootbestuurstelsels in te stel om te verhoed dat swaarvoertuie oor die pas gestuur word.
Volgens hom hou swaarvoertuie gereeld verkeer op of sit hulle op die pas vas, terwyl die koste om voertuie te berg of uit moeilike gedeeltes te verwyder hoog kan wees.
Hy meen die huidige voorval wys ook dat die gevolge veel verder kan strek as bloot die verwydering van ’n vragmotor.
Tydens Die Hoorn se besoek aan die Swartbergpas is eerstehands ervaar hoeveel verkeer die roete tans dra en watter veiligheidsrisiko dit kan inhou. Die Hoorn-span is self skrams deur ’n vragmotor gemis wat sand en klip vervoer het en teen ’n hoë spoed om ’n draai gekom het.
Daar bestaan ook kommer dat GPS-stelsels, waaronder Google Maps, swaar voertuie oor die Swartbergpas stuur, hoewel die roete nie vir dié voertuie geskik is nie.
Inwoners word ook aangemoedig om te help voorkom dat swaarvoertuie deur GPS-stelsels oor die Swartbergpas gestuur word. Sien die berig hier vir meer inligting oor hoe die roete by Google Maps aangemeld kan word.
Ferreira meen beter roetebeheer deur vervoermaatskappye kan help om verdere voorvalle te voorkom.
Vir die mense wat tans met die gevolge moet saamleef, het die probleem egter lank nie saam met die vragmotor van die pas verdwyn nie. (ANGELIQUE ERASMUS EN MALISSA SPIES)



Lees ook:
Google Maps routing trucks over Swartberg Pass sparks concern
Poort kan teen Desember tydelik heropen
Swartbergpas: Waar geskiedenis ’n draai maak
Herstelwerk skryf nuwe hoofstuk in Meiringspoort se geskiedenis
Be the first to comment on "Trokvoorval in Swartbergpas laat meer as 50 sonder bruikbare water"