IS dit nie tyd dat gesonde verstand moet seëvier nie, in ag genome die kort tyd voordat ’n plaaslike regeringsverkiesing plaasvind nie?
Dit was ’n vraag wat regter Nathan Erasmus Vrydag (10 September) in die Hooggeregshof in Thembalethu gevra het toe hy ’n dringende aansoek van die Oudtshoorn Munisipaliteit toegestaan het en beveel het dat besluite oor die aanstelling van waarnemende personeel wat 13 raadslede op 27 Augustus geneem het, nie uitgevoer moet word nie.
Die 13 raadslede van die ANC, Icosa, Sarco en die EFF het op 17 Augustus voorstelle aanvaar dat Walter Hendricks (’n vorige direkteur gemeenskapsdienste van George) as waarnemende munisipale bestuurder aangestel moet word, Zoe Lesia (hoof van parke) as waarnemende direkteur gemeenskapdienste en Reginald Smit (waarnemende munisipale bestuurder) teruggeplaas moet word na sy pos as direkteur korporatiewe dienste.
Erasmus het beveel dat die status quo by die munisipaliteit voor 27 Augustus gehandhaaf moet word totdat die munisipaliteit ’n hersieningsaansoek hieroor bring.
Lesia en Smit moet dus in hul huidige poste bly, terwyl Hendricks se aanstelling verval.
Volgens Christo van der Bergh van Coetzee en Van der Bergh Ingelyf, wat in die saak namens die munisipaliteit opgetree het, het Erasmus gevra dat die hersieningsaansoek spoedig ingedien moet word.
Die regsverteenwoordiger van die 13 raadslede het ook aangedui dat hy net eers wil seker maak of hulle wil voortgaan met teenkanting teen die hersieningsaansoek.
• Erasmus het tydens sy uitspraak gesê die Oudtshoorn Munisipaliteit gaan deur “stormagtige water” en onder meer verwys na die bestuurder regsdienste wat verlede jaar oorlede is terwyl sy assistent geskors is.
Hy het ook daarna verwys dat die raad reeds ’n ruk voor 27 Augustus met ’n proses begin het om ’n nuwe munisipale bestuurder aan te stel, maar later besluit het om die aanstelling tot na die komende verkiesing te laat oorstaan.
Dié verkiesing van plaaslike raadslede vind op 1 November plaas.
Erasmus het tydens sy uitspraak ook daarna verwys dat daar by die raadsvergadering van 27 Augustus geen items op die raadsagenda was ten opsigte van die besluite wat die 13 raadslede geneem het nie.
Daar het wel ’n verslag voor die raad gedien om twee amptenare in diens van die munisipaliteit, mnre HB Visagie en LB Fatushe, aan te stel as waarnemende direkteure gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste, maar dat dié verslag is nie deur ’n meerderheid raadslede aanvaar nie.
Die pos van munisipale bestuurder was ook nie op die agenda vir bespreking nie, met Hendricks se naam wat “uit die bloute” opgeduik het.
Erasmus het ook bevind dat ’n brief wat die onderburgemeester, Gaven Juthe (Sarco), as “waarnemende burgemeester” geskryf het, nie deur ’n raadsbesluit ondersteun word nie.
Juthe het voorts ’n vergoedingspakket vir Hendricks aangebied waaroor die raad nie enige besluit geneem het nie.
Erasmus het aangedui dat die kwessie van wie verantwoordelik sal wees vir die hofkoste van die saak later bepaal sal word. (Deur Liesel le Roux)
1 Comment on "Status quo van voor 27 Augustus moet bly, beveel die hof"
Comments are closed.
Hierdie is ‘n baie siek storie dankie DA. Ek sien klaar bedrog wanneer gaan dit ophou.
Politics bring Oudtshoorn weer op sy knee met bedrog