Weer mosies van wantroue in burgemeester en speaker?

Chris Macpherson (links) en Julia le Roux, huidige burgemeester en speaker van die Groter Oudtshoorn. Foto’s verskaf

MOSIES van wantroue in die huidige burgemeester en speaker van die Groter Oudtshoorn, die DA se Chris Macpherson en Julia le Roux, sal waarskynlik Vrydag (17 September) weer op die agenda van ’n raadsvergadering op Oudtshoorn wees.

Dit volg nadat ’n raadsvergadering wat verlede Vrydag moes plaasvind en waar mosies van wantroue in die burgemeester en speaker sou dien, uitgestel is nadat Le Roux verlede week Woensdag in ’n hospitaal opgeneem is.

Indien mosies van wantroue dien, is dit moontlik dat die vier partye in die Oudtshoorn-raad wat sedert 27 Augustus saamwerk – die ANC, Icosa, Sarco en die EFF – ’n nuwe burgemeester en spea­ker sal aanwys.

Le Roux het verlede Donderdag ’n amptelike kennisgewing wat die vergadering na 17 September uitstel, elektronies onderteken.

Luidens die kennisgewing sal die agendapunte van verlede week, waaronder die mosies van wantroue in die burgemeester en speaker, op Vrydag se vergadering dien. (Deur Liesel le Roux)