Kom vier Erfenisdag met ’n filmfees in ou Alpha Teater!

Eldene Jones (middel, stigter van E-Entertai-ners) by die vier jong akteurs wat bekende gedigte sal voordra. Van links is Jaiden Roos, Ruacay September, Nashwill Makshella en Marizanne Elbrect. Foto verskaf

’N MINI-FILMFEES wat sy ont­staan gehad het by die Oudtshoorn Film Bootcamp in Junie, ’n vyf­dag-werkswinkel oor die film­bedryf wat deur plaaslike en internasionale fasiliteerders vir werklose jeugdiges aangebied is.

Dié filmfees, die Attaqua Film Fest, word volgende Vrydag op Erfenisdag (24 September) by Grace Church International (ou Alpha Teater) in Bridgton om 14:00 en 19:00 aangebied. Spring­mie­lies en koeldrank is gratis, maar kaartjies word as fondsinsameling vir die projek verkoop teen R80 (enkel) en R150 (dubbel). Skakel of Whats­App na 064 764 3869.

By die filmfees sal drie dokumentêre films van studente vertoon word wat ’n produk is van die Film Bootcamp – ’n erfenisdokumentêr met Poem Mooney, ’n held-dokumentêr met André Boezak en ’n toerismedokumentêr oor Oudtshoorn.

M-Net het toestemming gegee dat die film Rooilug met twee akteurs uit Oudts­hoorn, Marlo Minnaar en Eldene Jones, vertoon mag word, terwyl die eerste Khoi-animasie­kortfliek deur die vervaardiger Deidré Jantjies, Stories in die wind, ook te sien sal wees. Dié veelbekroonde kortfliek het opslae gemaak by internasionale feeste.

Eldene, stigter van E-Entertainers, het voorts verdere opleiding aangebied vir die vier topstudente van die Film Bootcamp oor hoe om ’n fees te beplan – voor en agter die skerms. Die vier, Jaiden Roos, Ruacay September, Nashwill Makshella en Marizanne Elbrect, sal self ook by die filmfees te sien wees waar hulle as opkomende akteurs bekende gedigte sal vertolk.

Dié vertoning beloof om mense se monde te laat oophang.