’N 16-jarige seun het Woensdagaand (8 September) in ’n botsing tussen ’n Mercedes Benz en ’n bakkie in St Saviourstraat in Oudtshoorn gesterf.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing omstreeks 19:25 plaasgevind nadat die bestuurder van die bakkie na bewering beheer daaroor verloor het, en teen ’n aankomende Mercedes gebots het.
Athenkosi Wali (16) het na bewering die Mercedes bestuur.
’n Passasier in die Mercedes en ’n vrou wat na bewering die bakkie bestuur het, is in die botsing beseer. Die aard van hul beserings is onbekend.
Volgens Visser het die bakkie in ’n suidelike rigting gery – in St Saviourstraat op pad na Voortrekkerweg, terwyl die Mercedes in ’n noordelike rigting in St Saviourstraat vanaf Voortrekkerweg gery het toe die botsing plaasgevind het. Visser sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Die Hoorn kon nie die week daarin slaag om kontak te maak met Wali se familie nie. Bewerings op sosiale media dat Wali se pa aan die Oudtshoorn Infanterieskool verbonde is, kon ook nie bevestig word nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
16-jarige sterf in St Saviourstraat-botsing
Links: Die botsingstoneel Woensdagaand met die Mercedes Benz op die foto hieronder. Foto’s verskaf