Dié Boplaas-port beste in land, sê Atkin

Margaux Nel, wynmaker van Boplaas, by die 2021-presteerders. Foto verskaf

’N PORT van Boplaas Landgoed in Calitzdorp is deur Tim Atkin, ’n hoogaangeskrewe internasionale wynmeester en -skrywer, aangewys as Suid-Afrika se beste port.

Verskeie wyne van Boplaas het geskitter in die nuutste Atkin Wine Report oor Suid-Afrika. Die Boplaas Cape Vintage Reserve is volgens hom Suid-Afrika se beste port met ’n punt van 95 uit 100. Dié 2004-port toon hoe uitstekend dié wynplaas se port verouder.

Die Cape Vintage Reserve 2019 het 94 punte gekry en die Cape Tawny 91.

Die Boplaas Gamka Branca 2019 – ’n droë wit wynversnit het 93 punte gekry. Die Ring of Rocks 2018 het 90 punte gekry.
Boplaas het tot dusver uitstekend gevaar vanjaar met toekennings wat die landgoed losgeslaan het.

Die 2017 Reserve Port het onlangs die trofee losgeslaan as die land se beste port by die Old Mutual Trophy Wine Show, terwyl Boplaas ook vyf goue medaljes en ’n klaswenner vir port ontvang het by die SA Jongwynskou.