OCJF plant bome vir ’n groener omgewing

Wayde Ford (Trapsuutjies), Phillip Seroux, Du Toit Kruger (CKI) en Johnny Bartman plant bome.

DIE Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het verlede Donderdag begin met die aanplant van bome langs Dassieweg in Bridgton as deel van hul skoonmaakprojek om ’n skoner en groener omgewing te skep. Die 15 bome wat deur Swans Kwekery geskenk is, is oorkant die kantore van die Departement Binnelandse Sake en die Cape Karoo International se volstruisslagpale geplant.

OCJF het twee maande gelede begin met ’n skoonmaakprojek in samewerking met CKI. ’n Groep jongmense maak weekliks op Dinsdae en Donderdae die strook langs Dassieweg skoon deur papiere, plastieksakke en ander rommel op te tel wat dan deur die munisipaliteit verwyder word.

Phillip Seroux, projekbestuurder van die forum, het ’n beroep op inwoners van die omgewing gedoen om eienaarskap van die boomplantprojek te aanvaar en te help toesien dat booswigte nie die bome uittrek of breek nie. “Die projekte kan net suksesvol wees as almal saamstaan,” sê Seroux.

Johnny Baartman, uitvoerende hoof van die forum, het die dag as geskiedkundig in die forum se elfjarige bestaan bestempel.

Du Toit Kruger, looierybestuurder van CKI, het die forum geloof vir wat hulle in die gemeenskap doen. “Ons is baie trots daarop om deel te wees van wat die forum doen en ondersteun die projekte wat aangepak word.”

Volgens hom kan die aanplanting van bome net suksesvol wees indien almal saamstaan.

“Dit is die begin van ’n projek wat verder uitge­brei kan word en daarom is die versorging van die bome baie belangrik om die doelwit van ’n groe­ner omgewing te bereik.”

Volgens Morné Pietersen, stasiebestuurder van EdenFM wat ook die projek ondersteun, is ’n saad nou gesaai om ’n groen bomelaan te skep. Hy het verwys na ’n man in Indië wat jare gelede besluit het om elke dag een boom te plant en hoe dit tot ’n woud gegroei het. “Deur saam te werk kan Dassieweg ’n boomlaning word wat toeriste kan lok,” het Pietersen bygevoeg.

Die forum het ook CapeNature en Trapsuutjies bedank wat die kompos ge­skenk het en sal help om die bome gereeld nat te gooi. (Deur Garnett Wicomb)