MUSIEK van Zolani Mahola, Jitsvinger en Native Young wag op musiekliefhebbers in die Virtuele Absa Kuier- kamer wat vir drie maande tot einde November vanjaar gratis aanlyn beskikbaar gaan wees.
En hoewel ’n besoek aan die KKNK op Oudtshoorn nie vanjaar moontlik was nie, gee die Absa Kuierkamer musiekliefhebbers nou via die internet toegang tot uitstaande musikante teen die magiese agtergrond van die Karoo-landskap.
The Karoo Project met die musikante Mahola, Jistvinger en Native Young is deur Rootspring Music in die woestyn-agtige landskappe van die Karoo verfilm na afloop van die eerste inperking. Pippa Ehrlich, die Oscar-bekroonde regisseur van My Octopus Teacher, was ’n konsultant vir die projek.
Yusuf Ganief, uitvoerende hoof van Rootspring, sê The Karoo Project het ontstaan uit die behoefte om deur kreatiwiteit uitdrukking te gee aan die gemoedstoestand van mense tydens ’n baie uitdagende inperking.
Gaan na www.kknk.co.za vir Zolani Mahola se Thetha Mama wat nou reeds in the Virtuele Absa Kuierkamer se “Teater” beskikbaar is.
Jitsvinger se Doenit word begin Oktober hier bekend gestel en Native Young se Graveyard die begin van November.
Verken gerus die res van die Absa Kuierkamer vir ’n verskeidenheid gratis inhoud.