Langdienssertifikate vir hospitaalpersoneel

Van die personeellede van die Alan Blyth Hospitaal in Ladismith wat langdienssertifikate ontvang het, is van links Vernon Adams (10 jaar), verpleegster Juliette September (20 jaar), Shaun Graaff (10 jaar), dr Jaco Denkema (mediese superintendent), Kevin Carolus, Stefanus Kotze en Adri Alexander (al drie 10 jaar). Foto: Deon Meyer

VERPLEEGPERSONEEL, administratiewe personeel en algemene werkers van die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith wat langer as 10 jaar daar werksaam is, is op 9 September met langdienssertifikate beloon.

Dr Jaco Denkema, mediese Superintendent van die hospitaal, het die personeel namens die Departement Gesondheid bedank.

”Van julle is reeds langer as ek hier en is dit juis julle toegewydheid en lojaliteit wat die hospitaal bestaansreg gee.

“Wanneer ek die hospitaal tydens saalrondtes of andersins besoek, is die positiewe gees waarmee julle jul taak verrig, opmerklik. Daar is altyd ’n glimlag op die gesig, en selfs na ’n uitmergelende skof is julle altyd behulpsaam en vriendelik.
“Julle is die gesig van die hospitaal en dit is julle wat die hospitaal se beeld by die publiek en ander rolspelers bevorder.” (Deur Deon Meyer)