DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek tans ’n klag van poging tot moord nadat ’n 18-jarige pasiënt op 26 Augustus met ’n skerp voorwerp by die Mediclinic Klein Karoo gewond is.
Die wonde is na bewering deur ’n skalpel veroorsaak.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die voorval omstreeks 19:00 plaasgevind toe ’n 60-jarige vrou die pasiënt se kamer binne gegaan en haar gesig en bobeen gesny is.
Die vrou werk as lid van die verpleegpersoneel by die hospitaal.
Garnett Wicomb berig dat Christina Johanna Boshoff (60) op 30 Augustus vlugtig op aanklag van poging tot moord in die landdroshof verskyn het waarna die saak deur landdros Ntombizbdile Maseti vir verdere ondersoek uitgestel is.
Boshoff is op waarskuwing vrygelaat tot met haar volgende verskyning op 5 Oktober.
Mediclinic Suider-Afrika het intussen in ’n verklaring aangedui dat hulle die voorval in ’n baie ernstige lig beskou en besig is met ’n uitgebreide interne ondersoek.
Die pasiënt en haar gesin word fisiek en sielkundig ondersteun.
“Pasiëntveiligheid is ons sakeprioriteit, en ons het streng stelsels en protokolle om te verseker dat dit nie in die gedrang kom nie.
“Hierdie voorval is skokkend en onverwags, en ons is baie spyt dat een van ons pasiënte aan hierdie ervaring onderwerp is,” lui die verklaring. (Deur Liesel le Roux)
Poging tot moord ondersoek ná snye op pasiënt se gesig en been
Generiese foto