
Wikus le Roux (46). Foto verskaf
SY treur geweldig oor haar man, sê Suzette le Roux, eggenoot van Wikus le Roux (46) wat Vrydag in ’n botsing reg van voor tussen sy motorfiets en ’n bakkie op die Oudtshoorn-Georgepad gesterf het.
Volgens Suzette was haar man op pad om ’n pizza te gaan eet by ’n pizza-restaurant op pad George toe.
“Hy het gereeld op sy eie gery en hy het dit baie geniet. My hart is stukkend, stukkend. My kind, Jean-Pierre (17) se pa is van hom weggevat, en hy het hom nog so nodig.
“Wikus was ’n natuurmens, sportmens, lief vir motorfietsry, sy baard en natuurlik sy familie die meeste. Ek was regtig lief vir hom, en ek kan dit nou nog nie glo dat ek hom op so ’n onregverdige manier moes verloor nie.”
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing kort voor 13:00 op die perdeskoendraai digby die berugte haarnaalddraai plaasgevind.
Die Polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.
Met die nuus van Le Roux se dood wat op sosiale media versprei het, het huldeblyke van heinde en verre ingestroom.
Le Roux was ook ’n geliefde lid van die Knights Darts Club op Oudtshoorn. Die klub se voorsitter, Natasha Campher, sê die klub het “een van ons eie mense” verloor.
“Dit was so skielik en onverwags,” het sy bygevoeg.
Campher vertel dat Le Roux, met sy “skewe smile”, almal se vriend was, en dat die klub hom altyd as “Viki die Viking” sal onthou. “Wikus was die een wat met ’n Energade of twee opgedaag het, die ou wat jou siel tot op die been kon uittrek, die een wat altyd iets te sê gehad het; dit maak nie saak wat nie!”
Volgens haar was hy ’n baie goeie veerpyltjiespeler met ’n unieke manier van speel. “Hy het ook altyd raad gegee oor hoe ’n mens anders moet staan om beter te gooi!”
’n Kranslegging het reeds vroeër vandeesweek op die ongelukstoneel plaasgevind. (Deur Stefan Skapie Goosen)