DIE Groter Oudtshoorn-raad beoog volgende Dinsdag (3 Mei) om tydens ’n spesiale raadsvergadering ’n nuwe onderburgemeester te verkies, sê Aurelia Mle, woordvoerder van die munisipaliteit.
Dit volg nadat ’n meerderheid raadslede verlede Vrydag (22 April) by ’n raadsvergadering ’n mosie van wantroue in Vlancio Donson van Icosa wat na verlede jaar se plaaslike verkiesing tot onder-burgemeester verkies is, ondersteun het.
Vrydag se mosie van wantroue in Donson is gesteun deur die agt ANC-raadslede, asook die vyf raadslede van vyf ander partye: die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), Patriotic Aliance (PA), Advieskantoor, Good en Saamstaan.
Dié samewerking dui klaarblyklik daarop dat die Groter Oudtshoorn nou deur ’n nuwe koalisie beheer word met Icosa wat nie meer deel daarvan uitmaak nie, terwyl OGI nou weer deel is nadat die party in Desember uit die koalisie onttrek het.
Regsgeding na verwydering van Hendricks?
Intussen gaan ’n mosie van dringendheid wat by dieselfde vergadering aanvaar is om die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, uit sy posisie te verwyder, volgens ’n betroubare bron in die Hooggeregshof draai met moontlike finansiële implikasies vir die groep raadslede wat die mosie gesteun het. Hendricks het hom volgens dié bron tot die Hooggeregshof gewend omdat ’n munisipale bestuurder volgens wetgewing nie deur so ’n mosie verwyder mag word nie.
Die mosie is deur dieselfde groep van 13 raadslede wat Donson verwyder het, gesteun.
Die DA-raadslid Chris Macpherson het tydens die vergadering raadslede gewaarsku dat die proses wat gevolg word onwettig is.
Hy het vandeesweek by navraag bevestig dat hy raadslede tydens die vergadering gewaarsku het dat die proses onwettig is en ’n munisipale bestuurder nie so verwyder mag word nie. Volgens hom moet ’n burgemeester in so ’n geval ’n verslag aan die raad voorlê wat bespreek en goedgekeur moet word.
• Intussen is daar ook bewerings dat die raadslede se aanstelling van die finansiële hoof, Gerald de Jager, in Hendricks se plek as waarnemende munisipale bestuurder en Bjorn Metembo in De Jager se plek as waarnemende finansiële hoof, problematies kan wees vir die afteken van die Groter Oudtshoorn se begroting omdat slegs die amptelike finansiële hoof glo dit mag afteken.
• ’n Mosie van wantroue in burgemeester Chad Louw wat ook by die raad ingedien is voor verlede week se raadsvergadering, is nie Vrydag tot stemming gebring nie. Geen terugvoer oor dié mosie is nog ná navrae van Die Hoorn aan die munisipaliteit ontvang nie.
• Meer oor die raadsvergadering: https://www.diehoorn.com/nuus/chaotiese-vergadering-bring-veranderings-in-munisipaliteit/
Nuwe koalisie, onderburgemeester, munisipale bestuurder, en dalk ’n regsgeding…
