Chaotiese vergadering bring veranderings in munisipaliteit

Vlancio Donson, voormalige onderburgemeester van die Groter Oudts­hoorn verlede Vrydag by die raadsvergadering waar hy deur ’n mosie van wantroue verwyder is. Foto: Stefan Skapie Goosen

Raadslid Leon Campher kap terug nadat hy beskuldig is dat hy drie agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon het nie. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N RAADSVERGADERING van die Groter Oudts­hoorn munisipale raad wat Vrydag (22 April) veronderstel was om oop te wees vir die publiek, is meestal in komitee gehou en het die gevolg gehad dat die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, én die onderburgemeester, Vlancio Donson, hul poste verloor het.

Vergaderings waarop personeelsake bespreek word, word gewoonlik in komitee gehou.

Inwoners van die dorp wat die vergadering bygewoon het, en so ook mediaverteenwoordigers, moes ure lank buite die raadsaal wag terwyl mosies teen Hendricks en Donson bespreek is.

Daar kon duidelik gehoor word hoe raadslede oor en weer stry.

Die Oudtshoorniete teenwoordig was duidelik ont­steld oor hoe chaoties die oggend se vergade­ring was, en talle het hul kommer uitgespreek dat dit wil voorkom of raadslede meer bekommerd is oor hul posisies in die raad en om daaroor te stry as wat hulle is oor inwoners se probleme en die verbetering van die dorp.

’n ANC-raadslid, Abraham Tiemie, het met die aanvang van die vergadering ’n mosie van dringendheid ingedien om Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder te verwyder.

Die mosie is met 13 stemme teenoor 12 aanvaar, waarna die finansiële hoof, Gerald de Jager, in sy plek aangestel is totdat die pos amptelik gevul kan word.

Die pos van munisipale bestuurder is reeds geadverteer en aansoeke ontvang, met ’n aan­stel­ling wat waarskynlik binnekort gedoen sal word.

Die redes vir Hendricks se verwydering as waarnemende munisipale bestuurder deur die ANC en sy koalisievennote is in komitee bespreek wat beteken dat nóg die publiek, nóg die media teenwoordig kon wees.

Hendricks se aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder is bevraagteken sedert hy in September 2021 daarin aangestel is. Daar is egter vrae oor die prosedure wat Vrydag gevolg is om hom te verwyder, met raadslid Chris Macpherson (DA) wat gewaarsku het dit is onwettig.

Donson (Icosa) is hierna, na ’n mosie van wantroue wat deur die ANC ter tafel gelê is en deur hul koalisie-vennote ondersteun is, deur ’n meer­derheid van 13 raadslede teenoor 12 uit sy onderburgemeesterspos verwyder.

Die mosies teen Hendricks en Donson is deur die 13 raadslede van die ANC, die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), Patriotic Alliance (PA), Advieskantoor, Good en Saamstaan gesteun, met die 12 raadslede van die DA, VF Plus en Icosa wat dit nie gesteun het nie.

Ook hierdie gesprek is in komitee gevoer. Volgens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sal ’n nuwe onderburgemeester, by ’n raadsvergadering op 3 Mei verkies word.

Dié besluit oor Donson Vrydag was ’n duidelike aanduiding dat Icosa nie meer deel van die beherende koalisie vorm nie.

Tydens die vergadering het raadslid Leon Campher (Advieskantoor) deurgeloop toe Donson hom daarvan beskuldig het dat hy drie agtereenvolgende raadsvergaderings nie bygewoon het nie, wat volgens munisipale regulasies beteken dat Campher uit die raad verwyder moet word.

Campher het egter teruggekap dat dié aantygings onwaar is, en hy slegs een vergadering nie bygewoon het nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)