Sensus 2022: Maak so seker jy word voor 30 April getel

DIE Wes-Kaapse premier, Allen Winde, het ’n dringende beroep op Wes-Kaapenaars gedoen om seker te maak hulle word getel tydens die sensus-opname wat op 30 April eindig.

Die Wes-Kaap is ver agter die res van die land in die 2022-sensustelling. Volgens StatsSA is slegs sowat 55,5% van Wes-Kapenaars getel, terwyl die gemiddelde getal elders in die land ​​op 87% staan.

“As dit so bly, sal die aantal inwoners van die Wes-Kaap as veel laer beskou word as wat dit is ten spyte van ’n aansienlike bevolkingsgroei in die provinsie, en sal dit ’n impak hê op fondse en hulpbronne wat op nasionale vlak aan die provinsie beskikbaar gestel word,” sê Winde.

“Dit is veral kommerwekkend aangesien ons net vier dae oor het totdat die verlengde telling op 30 April 2022 tot ’n einde kom.

“Ek doen ’n dringende beroep op inwoners om seker te maak hulle word getel. Moedig ook kollegas, vriende en familie aan om dit te doen.”

Die maklikste manier om getel te word, is om dit aanlyn te doen deur op die volgende skakel te klik: https://getcounted.statssa.gov.za/#!/home

Dit sal jou neem na ’n vorm wat jy vinnig en maklik kan invul.
Indien jy op Oudtshoorn woon en probleme ondervind om getel te word, kan jy ook die selnr 0827038853 bel.