
VIER Kanna-toekennings het vanjaar hul tuiste op Oudtshoorn gevind – ’n trotse prestasie vir dié Klein Karoo-dorp.
Oudtshoorn se Mirinda Ntantiso is by Vrydag-aand se oorhandiging van die Kannas in Kaapstad aangewys as beste opkomende kunstenaar by vanjaar se KKNK vir haar spel in Op hierie dag, ’n teaterproduksie wat as deel van die Karoo Kaarte-projek aangebied is.
Karoo Kaarte het op sy beurt die Herrie-prys ontvang vir ’n grensverskuiwende werk wat feesgangers laat gons het.
Karoo Kaarte is ’n kunsteprojek wat verlede jaar afgeskop het en nou deurlopend op Oudtshoorn ’n verskil op die dorp en in die streek wil maak. Die projek, onder leiding van Neil Coppen en Vaughn Sadie, fokus ook op vaardigheidsontwikkeling en langtermyn-werkskepping.
Die ander twee Oudtshoorniete wat vereer is, is Danie Maart wat ’n spesiale Kanna ontvang het vir sy toegewyde diens van 20 jaar aan die KKNK, terwyl Clayton Carlson ’n spesiale prys vir opkomende tegniese talent ontvang het.
Die huldigingsproduksie aan die ontslape Pieter Fourie, Ek, Anna van Wyk, was die groot wenner vanjaar met vyf Kannas vir beste teateraanbieding, regie, ontwerp (Marthinus Basson), vroulike akteur (Tinarie van Wyk Loots) en manlike byspeler (Carlo Daniels), terwyl nog ’n produksie uit die Suid-Kaap, Karatara, ’n dansproduksie oor die impak en gevolge van die Knysna-brande in 2018, die prys vir beste debuutdrama ontvang het.
Die sameroeper van die onafhanklike Kannapaneel, Rafiek Mammon, sê dit was ’n enorme taak om ’n kortlys van benoemdes op te stel omdat die gehalte van die werk so goed was. “Dis asof twee jaar van grendeltydperke en Covid-19 almal aan-gemoedig het om beter en sterker daaruit te kom, met ’n duidelike honger en begeerte om goeie teater te wil maak.”
Die geleentheid is regstreeks gestroom na die KKNK se web- en Facebookblad en kan steeds daar gekyk word.
Datums: KKNK 2023 en Klassique 2022
Die beplanning vir die 27ste KKNK wat van Saterdag, 1 April 2023, tot Sondag, 9 April 2023, op Oudtshoorn sal plaasvind, het reeds begin, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied.
Theart, wat die datums vir volgende jaar se KKNK en vanjaar se Klassique by die Kanna-toekennings bekend gemaak het, sê volgende jaar se fees sluit twee naweke in, waaronder die Paasnaweek, en val binne die skoolvakansie.
“Feesgangers kan regmaak om na Oudtshoorn op te ruk vir ’n fees van gehalte musiek, teater en gesprekke,” sê Theart.
Klein Karoo Klassique vind van 5 tot 9 Augustus plaas. Volgens Theart sluit vanjaar se program ’n paar verrassings en formaat-aanpassings in.
Die volledige program sal middel Mei bekend gemaak word. (Deur Liesel le Roux)