Man met drank in klub se skoorsteen betrap…

’N VERMEENDE dief het Donderdag in die vroeë oggendure sy rieme styf geloop toe hy by Wickets Sports Club op Oudtshoorn ingebreek en in die skoorsteen vasgehaak het toe hy wou uitkom!

Volgens Werner Stoumann, bestuurder van Suiderkruis Sekuriteit, het dié klub op die Checkersplein se alarm omstreeks 00:20 afgegaan.

Met die sekuriteitsmaatskappy se aankoms kom hulle geluide binne die besigheid hoor, maar kon nie toegang tot die perseel verkry nie.

“Ons het toe die eienaar geskakel, wat die deur vir ons kom oopsluit het.”

Die polisie is ontbied wat die man met verskeie bottels drank by hom uit die skoorsteen, waar hy blykbaar vasgesit het, getrek het.

Die verdagte se naam word weerhou, aangesien hy nog nie in die hof verskyn het nie.

Stoumann sê dat hulle hul kliënte wat drankwinkels en restaurante besit, gewaarsku het om so gou moontlik na hul persele te gaan indien hulle deur die sekuriteitsfirma gekontak word.

“Vermeende inbrekers kry soms toegang tot besighede op vreemde plekke, ” sê hy. (Berig deur Angelique Erasmus)

2 Comments on "Man met drank in klub se skoorsteen betrap…"

  1. Derick | 04/11/2020 at 17:27 |

    Gesegde dat geld is n groot euwel,maar jissie wayn vat die koek op hierdie stadium

  2. Esme Henzen | 04/11/2020 at 12:25 |

    sy oe was groter as wat hy kon inneem. Drank het mosnie brieke.

Comments are closed.