SY 40 jaar diens by die Polisie is die hoogtepunt van sy loopbaan, sê ao Leon von Molendorf (Mollie) (58), wat pas as lid van die Oudtshoorn Polisie afgetree het.
Von Molendorf het in 1980, pas nadat hy in 1979 matriek geslaag het, sy loopbaan by die Spoorwegpolisie in Kemptonpark begin.
Hy is later na die hawe in Kaapstad oorgeplaas en in 1985 na die DF Malan Lughawe in Kaapstad, dieselfde jaar wat die Spoorweg- en Suid-Afrikaanse Polisie geamalgameer het.
“Ek is seker een van die min lede van die Spoorwegpolisie wat destyds met die amalgamasie my skof by die een instansie begin en die volgende dag by die volgende een geëindig het,” sê hy.
Terwyl hy daar was, het hy te hore gekom van ‘n kriptograafpos op Oudtshoorn, en aansoek gedoen vir ‘n verplasing.
“Ek het altyd gespot dat ek met my ‘n ryk volstruisboer se dogter van Oudtshoorn gaan trou,” skerts hy, en voeg by dat sy vrou, Denise, darem sulke mense geken het.
Denise is oorspronklik van Oudtshoorn en werk by ‘n dokterspraktyk op die dorp.
Hulle het twee dogters, Rozanne wat op Oudtshoorn woon, en Dené wat op George bly.
” ‘n Saak uit my loopbaan wat vir my uitstaan, was die een waar ons iemand wat verdwyn het, se liggaam drie jaar later in die omgewing van die Ovaalbaan gekry het. Die feit dat ons berusting vir die familie kon gee, het my diep geraak,” sê hy.
Hy sê enige saak waar die skuldige aangekeer is, en skuldig bevind en gevonnis is, het vir hom sy werk die moeite werd gemaak.
Von Molendorf het tydens sy loopbaan lank by die moord-en-roofafdeling gewerk, en later by die huisbraakafdeling, waar hy tot met sy aftrede was.
Hy sê hy wil tydens sy aftrede lekker in die tuin werk, kos maak en ou meubels restoureer, sy gunsteling tydverdryf.
“Ek sien ook daarna uit om te reis, en gaan heel eerste vir my suster in Namibië gaan kuier. “
Hy sien hy ook daarna uit om eendag oupa te word, “Ek het vir my dogters gesê ek wil oupa wees teen die tyd wat ek aftree, maar ek sal vir eers gelukkig moet wees met viervoetige kleinkinders. (Berig deur Angelique Erasmus)
Dankie vir goeie diens Leon .Twee van my swaers was ook spoorwegpolisie gewees Hul van Needham gewees .lekker dag.