HY is dankbaar om in ‘n land te woon waar almal uit hul pad gaan om streng maatreëls toe te pas, sê die voormalige Oudtshoorniet, Danie du Plessis. Danie was mede-eienaar van die unieke plaas Jamstreet langs die Rooiheuwelpad buite Oudtshoorn waar onder meer die Mooi-kunsgalery en die Jamtreet-amfiteater geleë was.
Danie hou deesdae in Taiwan skool en vertel dat dié land se gemeenskap, regering en privaat-maatskappye almal saamwerk om die pandemie se uitwerking te stuit, waarskynlik daarom dat Taiwan een van die lande ter wêreld is waar die getal positiewe gevalle asook die sterftesyfer baie laag is.
“Met die uitbreek van die pandemie is Taiwan beskou as die land wat die grootste getal infeksies sou moes trotseer vanweë die eiland se ligging slegs 130 km van China. Maar te danke aan verskeie faktore het dit nie gebeur nie. Taiwan het met die uitbreking van die SARS-virus jare gelede groot verliese gely, maar was daarom voorbereid. Alle vlugte vanaf Wuhan is onmiddellik gestaak met uiters streng maatreëls vir enigiemand wat vanaf China, Hong Kong of Macau die land binnegekom het. Ek self het net twee ure oorgestaan in Hong Kong en moes myself daarna vir 14 dae isoleer.
“Die regering het ook dadelik die verkoop van maskers beheer om paniekaankope in die kiem te smoor. Die regering is ook uiters deursigtig. Hier word die bevolking elke dag ingelig oor hoeveel gevalle daar is en met hoeveel elkeen in aanraking was. Tot op hede het Taiwan slegs 393 gevalle met ses sterftes.
“Taiwan se bevolking het nog altyd maskers gedra, self voor die pandemie. Dit is nie snaaks om mense met maskers te sien nie. Die enigste verskil is net dat almal nou maskers dra. Dit is nogal vreemd om daarmee klas te gee, maar dit word van ons verwag. Mens raak nogal benoud en dit is erg warm! Ek weet nie hoe ons dit gaan hanteer as dit somer raak nie, want hier raak dit baie warm en die humiditeit is hoog.
“Maskers is slegs by sekere apteke te koop. Elke Taiwanees kan nege maskers vir elke twee weke koop. Dit word beheer deur jou mediese kaart te wys waarop die data gestoor word. Alternatiewelik kan jy aanlyn koop en dit word by jou woning afgelewer. Ek het nog nooit nodig gehad om in ’n tou te gaan staan nie, want ek kry maskers by my skool.
“Ons is nie op ‘lockdown’ nie en alledaagse aktiwiteite gaan voort. Tog is dit opmerklik dat restaurante leeg is. Die regering het net ’n verbod geplaas op groot byeenkomste van 100 of meer mense, en dit word streng nagevolg. Waar ook al jy ‘n besigheid, hetsy die bank, supermark, poskantoor, gimnasium, ‘n bus of die ‘underground’ binnegaan, word jou temperatuur geneem en jou hande gespuit. Selfs taxibestuurders neem jou temperatuur en reinig jou hande met die inklimslag. Soggens by die skool word elke leerling se temperatuur geneem en tussen klasse word hande met handreiniger gespuit.
“Fisieke afstand word aangemoedig en by betaalpunte staan jy ‘n meter uitmekaar en net ’n sekere hoeveelheid mense word per rit op die ‘underground’ toegelaat. Werknemers reinig die handrelings van die roltrappe en in hysbakke is alle knoppies met plastiek toegeplak, Ons het vinnig geleer om ‘n knoppie nie met jou hand te druk nie en aan niks te vat nie.
“Drank is vryelik beskikbaar, want dit was nog altyd 24 uur per dag beskikbaar sonder enige sosiale probleme.
“Al wat hier frustrerend is, is dat alle grense gesluit is en alle vlugte gekanselleer is.”
Hoekom kan ons dit nie hier ook toepas nie?? sodat mense weer kan gaan werk asb
I live in South Arica but my heart have always been in China. Love the culture, country and people. Thank you fir what you have done whilst over there. China you make me proud.Thank you to this gentleman for this positive article. Sray safe. God bless you akl.
Dankie Danie vir jou insiggewende briefie!Hou ons op hoogte van verwikkelinge daar by julle.
Dis baie goed Daniel hoop sy is afrikaners kan so matreels in pl ek stel