NOG twee Oudtshoorniete gaan Saterdag die Two Oceans-halfmarathon in hulle tuin hardloop. Hulle is Jacques (38) en Rozanne (28) Theart wat tydens die Kango Marathon in Februarie vanjaar vir die Two Oceans gekwalifiseer het.
Die Hoorn het vroeër die week berig dat Linda Smit (64) van Oudtshoorn ook besluit het om die halfmarathon in haar tuin te hardloop.
“Dit sou ons eerste Two Oceans-wedloop gewees het, so die teleurstelling was groot toe dit afgestel is,” sê Rozanne, ’n verpleegter by die Mediclinic Klein-Karoo. “Met soveel tyd op hande en die motivering van ons mede-Nedbank-atlete, het ons besluit om die halfmarathon in ons tuin aan te pak.”
Hulle het ’n reguit stuk van 30 m in hul tuin waar hulle gaan hardloop.
Rozanne het in 2018 en Jacques, mede-eienaar van Theart Sementwerke, in 2019 by die Nedbank-klub aangesluit en draf tans daagliks 5 km in hulle erf om fiks te bly.
“Dis nie so maklik soos wat dit klink nie,” sê Jacques, en voeg by dat hy hoop hulle sal die 21km voltooi.
Die Thearts is groot Parkrun-aanhangers, en neem gereeld op Saterdae daaraan deel. Hulle het reeds in 14 verskillende dorpe aan Parkruns deelgeneem, waarvan een in London, Engeland. (Berig deur Angelique Erasmus)