Daar is groot dankbaarheid in Kobus en Rianna Terblanche se huis op Oudtshoorn nadat Kobus, een van die twee mense van Oudtshoorn wat al positief vir die Covid-19-virus getoets is, uit die Mediclinic op George ontslaan is en vanmiddag tuis gekom het.
“Die siekte is baie erg en dit voel vir my of ek by die dood omgedraai het. Om aan ’n asemhalingstoestel gekoppel te wees, is uiters ongerieflik,” het ’n sigbaar afgetakelde Kobus by sy huis aan Die Hoorn gesê.
Die 63-jarige Kobus is op Maandag, 31 Maart 2020, in die Mediclinic Klein-Karoo op Oudtshoorn opgeneem nadat hy siek begin raak en dr Wessel Vermeulen hom daarheen verwys het. Hy is dadelik vir Covid-19 getoets.
Weens die toestand van sy longe is hy Dinsdag, 1 April 2020, na die Mediclinic op George oorgeplaas. Die uitslae van sy Covid-19-toets het aangedui dat hy die siekte het.
Kobus se toestand het sodanig agteruitgegaan dat hy Donderdag aan ’n asemhalingstoestel gekoppel is en hy by tye in ’n koma geplaas is. Toe hy uit die koma bykom, was hy so deurmekaar en was die toestel so ongemaklik dat hy aan die pyp in sy mond begin kou het totdat die suster hom gesê het om op te hou daarmee, vertel hy.
Sy dogter, Suné Rupping, sê die familie was baie, baie bekommerd oor hom.
Nadat Kobus se asemhalingstoestel Maandag afgehaal is, het dit baie vinnig beter met hom begin gaan en was sy toestand vandag soveel beter dat hy onder streng voorwaardes huis toe gestuur is.
Hy mag onder meer twee weke lank nie uit sy huis uit gaan nie en moet die voorgeskrewe afstand van sy vrou hou. Hy moet ook in afsonderlike kamer slaap. Daar is ook ander maatreëls, soos dat hy sy eie eetgerei moet gebruik en dit afsonderlik gehou moet word.
Kobus en Rianna het al hul vriende en ander besorgdes uit die diepte van hul harte bedank vir die voorbidding en ondersteuning wat hulle glo hom deurgedra het.
Kobus was ook vol lof vir die Mediclinic op George en al die dokters en verpleegpersoneel wat hom behandel het.
Jacques Terblanche, wat in dieselfde kompleks as Kobus en Rianna woon, het Kobus in George gaan haal en agterin sy bakkie vervoer omdat Kobus nie saam met iemand anders in ’n voertuig se kajuit mag ry nie.
Die Hoorn wens Kobus ’n spoedige herstel toe!
(Berig deur Schalk le Roux.)