Linda Smit (64) van Oudtshoorn is gereed vir vanjaar se Two Oceans-halfmarathon wat sy Saterdag in die agterplaas van haar huis op die dorp gaan aandurf!
Linda, wat op 60 begin hardloop het, sê sy sou Saterdag aan haar vierde Two Oceans deelgeneem het, en was regtig hartseer toe dit as gevolg van die koronavirus gekanselleer is.
“Maar Maandag het ek net besef ek het so hard vir die halfmarathon geoefen en dat daar niks in my pad staan om dit Saterdagoggend in my eie erf af te lê nie.”
‘n Halfmarathon is 21,1 km lank.
Sy moet tien en ‘n halwe rondes in haar agterplaas aflê om een kilometer te hardloop. Sy het gereeld tydens die inperking in haar erf gehardloop met agt kilometer die verste afstand wat sy al daar afgelê het.
“Dit gaan moeilik wees met al die draaie en die harde oppervlak waarop ek moet hardloop, maar ek is gereed vir Saterdag. Ek dink daar gaan oor die land baie ander mense soos ek wees wat ook die Two Oceans in hul erwe gaan hardloop.”
Linda beoog om sesuur te begin, en haar aanslag op die halfmarathon af te skop met die speel van Nkosi Sikelel‘ iAfrika! (Berig en foto: Liesel le Roux)