Ma wat kind op oog slaan kry huisarres

’N 25-JARIGE ma van Dysselsdorp wat haar agtjarige seuntjie ’n pak slae gegee en op sy oog gestamp het, is in die Oudts­hoorn Streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind, ’n opgeskorte vonnis van ses jaar opgelê en in huisarres geplaas.

Volgens Amanda Stuurman (25) het sy die kind met haar plat hand op sy bobeen geslaan omdat hy die R20 waarmee sy hom na ’n winkel gestuur het, verloor het. Terwyl sy hom geslaan het, het haar elmboog glo per ongeluk sy oog getref.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het Stuurman se pleitverduideliking aanvaar.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Stuurman is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind. Volgens hom kan sy haar optrede afwater en verander soos sy wil maar dat die kind altyd sal onthou wat sy aan hom gedoen het.

“ ’n Kind moet liefdevol getug word en nie op so ’n manier dat hy of sy uit die ouer se sorg geneem moet word soos in die geval nie,” het hy bygevoeg. (Deur Garnett Wicomb)

1 Comment on "Ma wat kind op oog slaan kry huisarres"

  1. MARIE VERMAAK | 02/12/2021 at 10:32 |

    The sentence was to light for the mother who hit the child. Come on judge where is the childs right. Moms gona do it again. With or with the judge’s knowledge.

Comments are closed.