Sterre gaan blink by Klassieke Klein Karoo Kersfees…

Jannie Moolman. Foto verskaf

’N KOSHUISBRAK kry ’n mens nie maklik onder nie. Jy leer om te oorleef. So sê die sanger Jannie Moolman, wat van sesjarige ouderdom tot met sy derde jaar op universiteit in die koshuis was.

Toe die Covid-19-pandemie dus sy musiekloopbaan tot stilstand gedwing het, het hy amper alles onder die son gedoen om ’n inkomste te verdien.

“Ek’t vleis verkoop op ’n boeremark en probeer om handreiniger te smous… ek was nie baie suksesvol daarmee nie,” lag hy. “Vanjaar kon ek darem ’n paar keer optree en werk nou as gekwalifiseerde eiendomsagent.”

Hy sê jy het ’n keuse – jy kan of op ’n hoop sit en huil en jouself jammer kry, of jy kan aangaan en jouself daaraan herinner dat alles van ’n verbygaande aard is.

Jannie is een van die kunstenaars wat op Saterdag 11 Desember in die produksie Klassieke Klein Karoo Kersfees by Celebratio buite Oudtshoorn gaan optree. Hy deel die verhoog met Corlea Botha, Lynelle Kenned en lede van die Stellenbosch Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg.

“Ek is mal oor die Klein Karoo,” sê Jannie. “Dis een van die ongelooflikste plekke op aarde. Klassieke Klein Karoo Kersfees is ’n spesiale konsert. Om daar, in die middel van nêrens, saam met ’n lewendige orkes en ander kunstenaars onder die sterrehemel op te tree, is magical.”

Die gehoor kan uitsien na ’n program wat van die wêreld se mooiste Kersliedere en klassieke treffers insluit. Klassieke treffers sluit in The Rose, Somewhere, Libiamo en Vivo per Lei, met Kersliedere soos Somerkersfees, Stille Nag en Jerusalem wat ook gehoor sal word.

Die produksie word jaarliks eksklusief deur Celebratio geskep. Dit is die enigste keer en plek in Suid-Afrika waar dié unieke Kerskonsert aangebied word. Die konsert word vanjaar in samewerking met Klein Karoo Klassique en Die Hoorn as mediavennoot aangebied.

Die konsert begin om 19:30. Kos- en wynstalletjies is reeds van 18:00 af oop. Spyseniers en restaurante van die omge-wing sal die kosstalletjies beman. Daar is ook ’n kontantkroeg.

Kaartjies kos R250 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of kontant by PostNet op Oudtshoorn. Celebratio is sowat 30 km van Oudtshoorn op die Ou Sementpad geleë. Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.

Wen so dubbelkaartjies na Klassieke Klein Karoo Kersfees!

Twee lesers van Die Hoorn kan elk dubbelkaartjies wen na dié Kersfeeskonsert. Antwoord die onderstaande vraag en WhatsApp dit na 073 217 7089 of gooi jou antwoord in die boks by die ingang van PostNet. Onthou om jou naam, van en kontaknommer saam met jou antwoord te verstrek. Die sluitingsdatum van die kompetisie is Maandag 29 November 2021 om 12:00.

Die vraag is: Noem drie Kersliedere wat vanjaar by Klassieke Klein Karoo Kersfees gehoor gaan word.