Lekkerbek brand na moontlike kortsluiting

’N BRAND wat in die kombuis van Lekkerbek Wegneemetes in Kerkstraat, Oudtshoorn Dinsdagaand uitgebreek het, het wel skade aangerig, maar gelukkig is niemand beseer nie.

Die Hoorn is omstreeks 21:30 die aand in kennis gestel van die brand, en by ons aankoms op die toneel was beide die Oudtshoorn Brandweer en Polisie reeds op die toneel.

Terwyl brandbestryders die winkel binnegegaan het om die brand te blus, het die eienaar, Jerome Opperman, gestaan en toekyk hoe die rook uit sy winkel waai.

Opperman was onseker hoe die brand ontstaan het.

“Ons was binne, toe begin die kom­buis agter brand. Dis darem ’n relatiewe klein gedeelte van die besigheid.

“Ons sal weet wat die oorsaak was sodra die brandweer alles geanaliseer het,” het hy gesê.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word geen gemene spel vermoed nie, en wil dit voorkom of ’n kortsluiting die brand veroorsaak het. (Deur Stefan Skapie Goosen)