Kortverhaalmeester se pen nou stil

Abraham H de Vries. Foto Facebook

Die veelbekroonde kortverhaalskrywer, Dr Abraham H de Vries (Braam,) is Vrydag 23 Augustus op 87 in ’n aftreeoord in Durbanville oorlede. Hy het Alzheimer se siekte gehad.

Die Klein Karoo was sy geboorte- en grootwordplek. Hy is in 1937 in die Ladismith-distrik op hulle plaas, Winkelplaas, gebore en het in die distrik skoolgegaan en in 1956 aan die Hoërskool Ladismith gematrikuleer.

De Vries se eerste kortverhaal is reeds in 1953 toe hy maar 16 was, in Die Huisgenoot gepubliseer. Sy eerste kortverhaalbundel, Hoog teen die Heuningkrans verskyn in 1956 toe hy pas klaar was met matriek. Meer as dertig boeke het later verskyn. Sy laaste kortverhaalbundel, Maar wie sny die rose in die nag ? verskyn in 2013.

Hy word allerweë as Afrikaans se kortverhaalmeester beskou. Alhoewel hy talle toekennings vir sy werk ontvang het, is letterkundiges dit eens dat hy ’n onreg aangedoen is deurdat die gesogte Hertzogprys, veral vir sy bundel Nag van die clowns, nooit aan hom toegeken is nie.

In 1997 was De Vries die heel eerste persoon aan wie ere-burgerskap deur Ladismith toegeken is en in 2012 het die KKNK hom vereer met die Afrikaans Onbeperk-toekenning vir sy lewensbydrae tot Afrikaans.

Alhoewel De Vries ’n doktorsgraad in Letterkunde behaal het, wyd gereis het en dikwels plaaslik en in die buiteland opgetree het, was hy volgens ander skrywers beskeie en uiters toeganklik en het sy deur altyd oopgestaan vir medeskrywers en veral vir opkomende skrywers.

In ’n radio-onderhoud hierdie week op RSG het die digter en vertaler Dr Daniel Hugo gesê Braam de Vries was ’n brugbouer op verskeie vlakke – tussen die platteland en die stad, tussen Suid-Afrika and die buiteland, maar ook op geestelike gebied tussen die innerlike en die uiterlike.

Alhoewel De Vries in Kaapstad gewoon het, het hy gereeld na hulle familieplaas buite Ladismith teruggekeer om te skryf. Volgens hom was daar geen beter plek om te skryf as in die Klein Karoo nie en hy het meer skryfwerk op een dag op die plaas gedoen as wat hy in dae in die stad kon vermag.

’n Groot deel van sy verhale was in die vorm van kontreistories en -vertellings, maar hy het met groot vaardigheid en meesterskap ook aktuele kwessies en stories uit ’n veel breër agtergrond geskryf. Dit was juis hierdie vermoë van hom om tussen die verskillende verhaalvorme te kan beweeg wat hom volgens kenners onderskei het van ander kortverhaalskrywers.

Buiten sy eie skryfwerk was De Vries ook vertaler en die samesteller van verskeie bundels waarvan Die Afrikaanse kort-verhaalboek reeds sewe heruitgawes gehad het. Dit het in 1978 verskyn en die vyfde uitgawe is in 1996 uitgegee as EEU Honderd jaar van Afrikaanse kortverhale met bydraes van bykans 70 skrywers in Afrikaans oor ’n tydperk van 100 jaar.

Die omvang van De Vries se werk en sy invloed op Afrikaans as taal en letterkunde kan duidelik gesien word in die talle huldeblyke deur bekende skrywers en letterkundiges wat sedert sy dood instroom. Lesers kan gerus Erika Terblanche se omvattende artikel oor Braam de Vries op Litnet (www.litnet.co.za) lees.

Be the first to comment on "Kortverhaalmeester se pen nou stil"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*