

DIE gebroke moeder van Pietro Klaassen (24) wat Saterdagaand gesterf het nadat hy in Dassieweg, Oudtshoorn deur ’n motor raakgery is, het Maandag ’n hartroerende beroep op die bestuurder van die voertuig gedoen om na vore te kom.
Die bestuurder van die voertuig het sonder om op die ongelukstoneel stil te hou, weggery.
Pietro is volgens ’n inskrywing van ’n ooggetuie, Gallou Blou, op die Facebook-blad Oudtshoorniete staan saam omstreeks 23:18 voor die abattoir van Cape Karoo International (CKI) in Dassieweg deur ’n motor getref wat daarna so vinnig weggery het dat sekuriteitspersoneel nie die registrasienommer kon sien nie. Blou het Saterdagaand kort na die voorval die inskrywing gedoen en aangedui dat sekuriteitspersoneel die polisie en ambulans onmiddellik ontbied het.
Klaassen is volgens ’n betroubare bron op die toneel behandel en na die Oudtshoorn Hospitaal vervoer, maar is by opname dood verklaar.
Volgens ao Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, word ’n saak van strafbare manslag ondersoek. Michaels het bevestig dat die bestuurder nie stilgehou het nadat Pietro getref is nie.
Audrey Klaassen, Pietro se ma, het haar ook tot die Oudtshoorniete staan saam-groep gewend om ’n beroep op die bestuurder te doen en onder meer geskryf: “Mnr, kom na vore; jy ontneem my van ’n seun, ’n pa van ’n vierjarige dogter wat haar pa nooit weer sal sien nie. Weet jy watter hartseer jy sy broers en suster aangedoen het? Weet jy hoe gebreek ons is as familie en sy vriendekring?”
Raadslid Leon Campher het die week ook inwoners versoek om na vore te kom met inligting oor die ongeluk, die bestuurder en die voertuig. Hy het die feit dat die bestuurder weggery het van die toneel en die voorval nie by die polisie aangemeld het nie as ’n ernstige misdaad bestempel.
Honderde mense het Dinsdagmiddag ’n kranslegging op die ongelukstoneel bygewoon. Lees meer hieroor: Honderde by kranslegging vir jong man wat in tref-en-trap sterf. (Deur Liesel le Roux)