DIE Blossoms-diepwaterprojek is op koers om in April vanjaar voltooi te word, sê Chris Swart, senior bestuurder water en sanitasie by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.
Volgens Swart is die pompstasie-geboue en reservoirs voltooi en moet nog net 2 km van die 22 km-lange pyplyn geïnstalleer word. Die meganiese kontrakteur sal voorts binne die volgende weke met sy installeringswerk begin.
“Die enigste bron van kommer in die stadium is die kragvoorsiening deur Eskom.
“Eskom het lank gedraai om met die boere oor wie se grond die pyplyn loop, kontak te maak vir toegang. Ons het saam met Eskom en die betrokke grondeienaars die toegang in beginsel uitgeklaar. Eskom moet nou net ooreenkomste aanpas en die installasie kom afhandel.”
Swart sê terwyl beurtkrag nie 50% van die dag oorskry nie, sal dit nie inbreuk maak op die pomp van water vanaf Blossoms nie.
“As ons fondse dit toelaat, beplan ons egter om wel ’n kragopwekker vir die ‘booster’-pompstasie te installeer indien die kragonderbrekings versleg.”
• Die oorspronklike werk aan die Blossoms-diepwaterprojek het in die vroeë 2000’s begin.
’n Nooddroogteprojek om water via ’n pyplyn vanaf die bestaande eksplorasieboorgate na Oudtshoorn te bring, is in 2018 van stapel gestuur. Dié droogteprojek van sowat R100 miljoen is hoofsaaklik gefinansier deur die nasionale Departement Water en Sanitasie (DWS). Die Waterwet erken Suid-Afrikaners se reg van toegang tot basiese waterverskaffing en die verantwoordelikheid van die regering om basiese water te verskaf. (Deur Liesel le Roux)
Blossoms-voltooiing op koers vir April
Die laaste werk aan die Blossoms-droogteprojek word tans gedoen. Foto verskaf