DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het verlede week saam met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit en ander veiligheidsrolspelers in die dorp, vergader om die gereedheid van die dorp te bepaal vir noodsituasies, en om oor misdaadvoorkoming te gesels.
Die geleentheid is gefasiliteer deur die burgerregte-organisasie AfriForum, en het onder meer verteenwoordigers van die nooddienste, polisie, brandweer, verkeer, buurtwagte en munisipale wetstoepassers ingesluit.
Johan Conradie, voorsitter van die AfriForum Oudtshoorn, sê die geleentheid is geskep om die munisipaliteit by te staan met die opstel van gebeurlikheidsplanne vir die dorp. “Dit is ’n munisipale inisiatief wat deur die burgemeester geloods is. As AfriForum is ons baie betrokke by gemeenskapsbeveiliging.”
Volgens Conradie was sekuriteitsmaatskappye en die polisie baie betrokke by die inisiatief. “Die doel is om ’n span saam te stel wat alle rolspelers inkorporeer, sodat onmiddelik gereageer kan word as iets gebeur.”
Die inisiatief wil veiligheid in alle gemeenskappe bevorder, met Calitzdorp, Dysselsdorp en De Rust se gemeenskappe wat ingesluit is in die plan. “Die punt is nie om meer reaktief op te tree teen misdaad nie, maar pro-aktief,” sê Conradie.
“Selfs in ons buurtwagte het ons mense wat in verskeie rolle optree. Ons moet almal bymekaar bring, want tans tree almal op hul eie op.”
Conradie maan dat dié inisiatief ’n samewerkingsooreenkoms tussen alle rolspelers benodig, met die doel op gemeenskapsbeveiliging.
Die geleentheid is gefasiliteer deur Roland de Vries, oud-adjunkhoof van die SA Weermag. De Vries, wat in 1999 na 37 jaar uitgetree het, beskik oor wye operasionele ervaring in die veiligheid van gemeenskappe. Volgens De Vries is die fokus daarop om pro-aktief op te tree.
“Nadat ek uit die weermag is, het ek baie veiligheidsprojekte aangepak, en ook rampbestuursprojekte. Ek werk die laaste ses jaar met gemeenskappe regoor die land sodat hul noodsituasies kan verstaan. Ons doen terrein- en risiko-ontledings sodat mense hul omgewings kan verstaan. Ons kyk spesifiek na wat gemeenskappe se probleme is ten opsigte van misdaad en hoe hulle hulself kan beveilig.”
“Dit gaan oor die bemagtiging van gemeenskappe en selfbesker- ming. Ons weet die polisie beskik nie meer oor die vermoë om die gemeenskap te beskerm nie. Selfs privaat organisasies kan dit nie op hul eie doen nie.”
• Die Oudtshoorn Munisipaliteit is gevra om kommentaar te lewer oor die samesprekings, maar teen druk- tyd is geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Veiligheid en gereedheid vir noodsituasies hier aangespreek
’n Intensiewe werksessie oor veiligheid in gemeenskappe is verlede week by die Oudtshoorn Munisipaliteit deur Roland de Vries, oud-adjunkhoof van die SA Weermag, aangebied. De Vries, wat in 1999 na 37 jaar uitgetree het, beskik oor wye operasionele ervaring in die veiligheid van gemeenskappe. Foto: Stefan Skapie Goosen