Honderde by kranslegging vir jong man wat in tref-en-trap sterf

Past Joey Theron met een van die kranse. Foto: Garnett Wicomb

HONDERDE inwoners van Bridgton, Oudtshoorn het Dinsdagaand ’n kransleggingseremonie in Dassieweg bygewoon waar Pietro (Pietie) Klaas­sen (24) Saterdagaand in ’n tref-en-trap ongeluk gesterf het.

Klaassen was volgens apostel Granwill Baadjies ’n nederige, unieke en spesiale jong man wat by sy kerk se Sondagskool betrokke was.

Past Joey Theron van die Dysselsdorp Pinkster Protestantse Kerk (PPK) het ’n beroep op die bestuurder van die motor gedoen om hom aan die polisie oor te gee. “Ek glo dat die skuldige homself binne die volgende drie dae sal oorgee,” het Theon gesê en die familie gevra om nie moedeloos te raak nie.

Die gemeenskapsleier en raadslid van die Groter Oudtshoorn Leon Campher het die Oudtshoorn Munisipaliteit geblameer vir ongelukke op die stuk pad voor die volstruisabbatoir, aangesien daar nog nie ’n spoedwal daar aangebring is nie.

Volgens hom faal die munisipaliteit die gemeenskap en verskuif so sy verantwoordelikheid na die Polisie.

“Misdaadbekamping is ons almal se saak,” het hy gesê.

Volgens Campher is ’n sewejarige kind, ’n fami­lielid van Klaassen-familie, ook op die pad dood­gery en het ’n bakkie ’n tyd gelede ook ’n man daar “geskep”.

“Ons moet voorkom dat nog sulke ongelukke gebeur. Ek is ’n raadslid wat met inwoners se belastinggeld betaal word.

“Dit is die munisipaliteit se plig om onder meer na inwoners se veiligheid om te sien deur spoedwalle aan te bring, beligting te voorsien, oop spasies te benut en vervalle geboue soos Pasella, ’n broeiplek vir misdaad, af te breek.”

Twee ander sprekers, Lorna Wagenaar en Salome Plaatjies, het ernstig met die groot aantal ouers gepraat.

“Ons konfrontreer nie meer die verkragter, die moordenaar en molesteerders nie en blameer liewer hul slagoffers. Ons draai die gesig weg wanneer ons kinders met gesteelde goed by die huis aankom,” het Wagenaar gesê.

Plaatjies,’n berader, het die mense wat weet wie die bestuurder van die motor was, gevra om na vore te kom.

Met verwysing na die onlangse dood van die rugbyspeler Boutros May en nou Klaassen het Campher gesê hy hoop dat die dood van die twee jong mans daartoe sal lei dat iets goed op Oudts­hoorn tot stand sal kom.

Hy het inwoners genooi om in groot getalle betrokke te raak by sy nuwe inisiatief, Community Against Crime, en om saam te staan in die bekamping van misdaad op Oudtshoorn en Dysselsdorp. Campher kan gekontak word by sel 082 958 4348.

’n Kruis en kranse geskenk deur Strydom Begrafnisdienste is aan die einde van die roerende seremonie hoog aan ’n lamppaal in Dassieweg, reg­oor die plek waar Pietro doodgery is, aangebring

• Pietro word Saterdag om 11:00 vanuit die Bridgton PPK begrawe na ’n huisdiens in 13de Laan, Bridgton wat om 10:00 begin. (Deur Garnett Wicomb)