Adjunk-direkteur verpleging groet Oudtshoorn na 29 jaar

Helen Human Dinsdag tydens haar laaste dag as adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik

DAAR lê ’n nuwe avontuur voor vir Helen Human, die afgelope sewe jaar die adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik.

Human verhuis eersdaags na Caledon in die Overbergdistrik nadat sy aangestel is as primêre gesondheidbestuurder in die Theewaterskloof.

Dinsdag was Human, wat 29 jaar van haar loopbaan op Oudtshoorn gewerk het, se laaste dag op kantoor by die Oudtshoorn Hospitaal.

Sy was tydens haar loopbaan ook vir drie jaar die hoof van verpleegdienste by die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith.

“Die Oudtshoorn Hospitaal was egter my huis, my tuiste waar ek professioneel gegroei en ontwikkel het tot die mens wat ek vandag is.”

Dit was Dinsdag duidelik dat Human, wat baie geliefd is in die gemeenskap, Oudtshoorn en sy mense baie gaan mis.

Sy het grootgeword en skoolgegaan in die dorp en was ’n hoofmeisie van Bridgton Sekondêr.

Sy vertel dat sy altyd met groot waardering aan die ongelooflike ondersteuning van die Oudtshoorn-gemeenskap aan die ge­sondheidswerkers, veral tydens die Covid-pandemie, sal dink.

“Die gemeenskap was dikwels die motivering vir my en kollegas om deur te druk en vas te byt.”

Sy sê as sy ’n boodskap aan haar kollegas kan nalaat, is dit die waarde van ’n bestuurstyl wat gegrond is op die beginsels van “modelling, coaching and mentoring”. (Deur Liesel le Roux)