Oudtshoorniete vaar goed by eerste Louvain Uithourit

Lea Muller (11), nadat sy haar eerste 80 km-rit suksesvol voltooi het by die Louvain Perde-uithourit 50 km buite Oudtshoorn. Foto Johanette Photography

VEERTIEN Oudtshoorniete het Vrydag en Saterdag (3 en 4 Maart) aan die eerste Louvain Perdeuithourit, 50 km buite Oudtshoorn deelgeneem.

Die nuwe rit, wat deur die Outeniqua Uithouritklub aangebied is, is die voorloper van vanjaar se SAIC (South African International Competition), wanneer ruiters vanuit buurlande teen die beste plaaslike ruiters kragte meet. Dié kompetisie word van 24 tot 26 Mei by Louvain gehou. Louvain is ongeveer 50 km vanaf Oudtshoorn geleë.

Die 78 deelnemers aan die Louvain Perde-uithourit was dit eens dat die baan baie uitdagend was.
“Die baan was baie tegnies met bulte en dit was Vrydag baie warm. Dertien perde het onttrek of is uitgeskakel,” het Henk Basson, voorsitter van die klub aan Die Hoorn gesê.

Nico-Meyer le Roux was eerste oor die wenstreep in die 120 km-ka-tegorie met ’n tyd van 6 ure 33 minute en ook die algehele wenner van dié afstand.

Sy perd, Sanniesguns Unexpected Turbule, het ook die prys vir die “Best of the Best” gewen, wat beteken dat hierdie perd die beste perd van al die inskrywings van die naweek was.

Die eerste 120 km-liggewigruiter, ook van Oudtshoorn, was Lara le Roux met haar perd Almas. Hulle het die afstand in ’n tyd van 6 uur 42 minute voltooi.

Almarie Nel (17), ’n leerling van Langenhoven Gimnasium, was Vrydag die eerste juniorruiter oor die wenstreep in die 80 km-afdeling met haar perd Omsura Indingo.

Sy het die afstand afgelê in ’n tyd van 5 uur 5 minute. Sy was Saterdag ook die eerste juniorruiter in die 120 km-kategorie en het op die perd Zakai dié afstand in 8 ure 8 minute voltooi. Lea Muller (11), ’n Laerskool Wesbank-leerling, het Saterdag haar eerste 80 km suksesvol voltooi met haar staatmakerperd Rafara. (Deur Angelique Erasmus)