Besighede moet seker maak dat hulle voldoen aan die inperkingsregulasies en ’n essensiële diens verrig soos deur die Departement van Handel en Nywerheid uiteengesit. Volgens die Departement is die CIPC-sertifikaat wat ’n besigheid van die internet kan aflaai nie alleen voldoende vir hulle om voort te gaan met besigheid nie, maar moet hulle ’n essensiële diens verrig.
VERSKEIE besighede in die Groter Oudtshoorn het na verneem word reeds waarskuwings van die polisie en munisipale wetstoepassers ontvang dat hulle nie essensiële dienste verrig nie en hul deure tydens die inperking moet sluit.
Een van die besighede is Johnson’s Bricks, waar ’n groep Chinese mans glo gewerk het aan die installering van ’n meganiese steenmakery, terwyl ’n bouer van die dorp ook glo besig was met bouwerk daar. Die Chinese mans het glo agter geslote hekke op die terrein gewerk, gewoon en geëet.
Die Joint Operation Centre (JOC) op Oudtshoorn het aan Die Hoorn gesê die polisie en wetstoepassers was op die perseel van Johnson’s Brics en het die eienaar gewaarsku.
“Die situasie word gemoniteer, nie net op hierdie perseel nie, maar ook in die Groter Oudtshoorn. Enige klagtes rakende die oortreding van die inperkingsregulasies moet by die Polisie aangemeld word by 044 2039014 of by die aangewese COVID19-klagtesnommer 044 2037801 (kantorure) en 044 2037800 na-ure,” lui die antwoord aan Die Hoorn.
Die eienaar van Johnson’s Bricks, Lawton Truter, het aan Die Hoorn gesê hy en ’n bouer het Maandag aansoek gedoen vir ’n permit. Hy het vandeesweek ’n CIPC-dokument ontvang wat toestemming gee vir noodherstelwerk wat nie met 21 dae uitgesel kan word nie.
Truter sê hulle het in die tydperk geen produksie gedoen nie.
“Volgens die polisie was die permit egter nie geldig vir my nie. Ons het alles onmiddellik gestaak en wag vir volgende aankondigings.” (Berig deur Liesel le Roux)
Hierdie person sit almal in risk