ONTEVREDENHEID onder inwoners oor die uitdeel van kospakkies Vrydagaand in die in Amalienstein, (geleë tussen Ladismith en Calitzdorp) het daartoe gelei dat die polisie Saterdag ‘n groep van sowat 300 mense met rubberkoeëls moes uiteenjaag. Sewentien inwoners is ook in hegtenis geneem vir die oortreding van die Rampbestuurswet.
Wat `n normale Saterdagmiddag moes wees, het Saterdag in pandemonium verander toe sowat 300 ontevrede inwoners van “Die Vlak” in Amalienstein vergader het.
Volgens brig Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het die polisie Saterdag (18 April 2020) gereageer op ‘n klagte dat sowat 300 gemeenskapslede op `n oop stuk veld in “Die Vlak” bymekaargekom het.
“Hulle was ontevrede oor die die uitdeel van kospakkies met munisipale voertuie. Volgens inligting wou die groep nie na die burgemeester, Magdalena Barry, luister nie en is sy verbaal gedreig en het sy die gebied verlaat.
“Naidoo sê die Polisie het rubberkoeëls gebruik om die groep te verjaag. 17 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die oortreding van die Rampbestuurswet (regulasie11b(1)(a)(i)). Nege is later vrygelaat op ‘n boete van R1 000 of die keuse om op 3 Augustus 2020 in die hof te verskyn. Die ander agt moes in aanhouding bly en het Maandag in die hof verskyn. `n Klag van openbare geweld word ook ondersoek, maar geen arrestasie is in die verband gemaak nie.
Van die ontevrede inwoners het aan Die Hoorn gesê hulle beskou die uitdeling van die kospakkies as “bevoordeling” omdat die munisipaliteit dit die Vrydagaand na 20:00 uitgedeel het aan inwoners wat volgens hul mening die burgemeester, Magdalena Barry, goedgesind is.
Volgens March Opperman, een van diegene wat in hegtenis geneem is, het die pryse van produkte in die “blikwinkels” drasties tydens die inperkingstydperk toegeneem. Volgens hom was alles rustig in die 655 huise in Die Vlak tterwyl mense op kospakkies gewag het.
`n Raadslid van Kannaland, wat gevra het om anoniem te bly, het Die Hoorn geskakel en ingelig oor die onrus op die vlak. “Wanneer hongerte oorneem,sal mense nie meer sin in die lockdown sien nie,” het die raadslid gesê. Volgens die raadslid is kospakkies in ‘n nabygeleë stoor geberg om volgens die kriteria van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) regverdig versprei te word. (Berig en foto’s: Deon Meyer)