Hoekom die ‘eier-challenge’? Want dis ‘n uitdaging en pret!

OOK op Oudtshoorn het inwoners die afgelope weke met oorgawe deelgeneem aan die sogenaamde “eier-challenge” waar jy uitgedaag word om ‘n rou eier af te sluk, gevolg deur ‘n bietjie suiker, en ‘n sopie sterk drank soos brandewyn terwyl jy ‘n video verfilm en op sosiale media plaas.
Terwyl sommige die uitdaging vlot en sonder probleme kafgedraf het, het ander maar moeilik aan daardie eier gesluk.

Twee Oudtshoorniete, Arnold en Esti de Jager, sê hulle het die uitdaging aangepak omdat hulle ander dit sien doen het en gedink het dit sal snaaks wees.

“Dis nie so erg om die rou eier te sluk nie, dis ‘n ‘mind over matter’-ding,” sê Esti. Sy meen die eier kan moontlik beter smaak as jy dit sou klits, maar hulle het dit eier net so ingesluk.

“Daar was gelukkig geen nare nagevolge nie. Ek dink die suiker en drank skakel dit darem uit,” sê Arnold.

Die De Jagers stel voor dat jy met die uitdaging aan iets anders dink, en nie aan die rou eier nie.

Hulle het agt vriende en familielede uitgedaag, met drie wat besluit het om die uitdaging te aanvaar en videos te deel.

Hoekom neem mense aan so ‘n uitdaging deel?

Dr Clifford van Wyk, ‘n psigiater van Oudtshoorn, sê mense beskou sulke uitdagings as groot, onskuldige pret.

Volgens hom sal kompeterende mense uit die aard van hul persoonlikheid hul bes doen en hulleself tot die uiterste druk om suksesvol te wees en om ‘n uitdaging te wen.“Ek dink die oorheersende gevoel is dié van nie moet terugstaan vir ‘n uitdaging nie, om harder te wil probeer en verder te wil gaan wanneer ander sukses bereik het. Hulle verwelkom die uitdaging, het baie vertroue in hulself, en die klem lê nie slegs in kompetisie met andere nie, maar uiteraard ook in ‘n sterk stuk kompetisie met die self.”

Dr Wessel Vermeulen, ‘n algemene praktisyn op die dorp, sê hy stem saam dat hierdie uitdaging lekker sports is. “Dis amper so erg soos ‘n uitdaging op ‘n rumpartytjie,” skerts hy.

Hy vertel hy is self uitgedaag, maar het eerder verbygehou. “Ek raak naar net om aan rou eier te dink, en is bevrees dat ek sal sewe tiere skiet!” (Berig: Angelique Erasmus)