Hofbevel teen ses ná doodsdreigemente, aanrandings en beledigings by munisipaliteit

HOFDOKUMENTE oor ’n tussentydse hofbevel wat die Oudtshoorn Munisipaliteit Dinsdag teen ses inwoners van die dorp verkry het, lees soos ’n riller van geweld en aanranding, onrus­sto­king en intimidasie, kru taal en doodsdreigemente teen verskeie munisipale amptenare.

Die hofbevel verbied Harriet May, Sara Collins, Elizabeth Bettie Phato, Peter Lee Harmse, Deon Donson en Maria Erasmus om voortaan 33 munisipale geboue en terreine te betree, asook om amp­te­nare, raadslede en werknemers van die muni­sipaliteit aan te rand, te dreig of te beledig of hulle te verhinder om hul werksverpligtinge uit te voer.

Die hofbevel is deur Christo van der Bergh, regsverteenwoordiger van die munisipaliteit, by die hof ingedien en deur landdros Jaco Lambrechts toege­staan. Die ses inwoners moet op 29 Januarie 2021 in die hof verskyn om redes te verstrek waarom die tussentydse bevel nie ’n permanente hofbevel gemaak moet word nie.

Hulle is na verneem word klein kontrakteurs wat dreigemente gebruik of probeer gebruik om werk by die munisipaliteit te kry.

Verskeie klagtes waarby die groep en nog mense sedert einde Oktober betrokke was, word ook deur die Polisie ondersoek. Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, sluit dit klagtes van aanran­ding, crimen injuria, intimidasie en betre­ding in.

Personeel gedreig dat hulle uitgehaal, uitgebrand en met mes gesteek gaan word
Volgens hofdokumente was die ses inwoners die afgelope weke betrokke by ontstellend aggres­siewe gedrag, ontwrigting, en erge skel- en vloektaal. Werknemers, amptenare en raadslede is ge­dreig dat hulle “uitgehaal” sal word; met ’n vragmotor-bui­teband uitgebrand sal word en met ’n mes gesteek sal word.

Luidens ’n beëdigde verklaring van die waarnemende munisipale bestuurder, Gerald de Jager, wat ter ondersteuning van die aansoek ingedien is, het die ses by verskeie gevalle in die verlede ook onreg­ma­tig toegang bekom tot munisipale geboue, maar het dit op 28 Oktober begin eskaleer. Daar was ’n toename in geweld en onrus met munisipale geboue wat beset is en die Polisie wat moes ingryp.

Die groep het geboue beset sonder die nakoming van Covid-19-regulasies, reiniging van hande en invul van ’n register by die ingang, terwyl talle sonder maskers was en met geweld by sekuriteitsbeamptes verby beweeg het.

In een so ’n voorval op 28 Oktober by die Lemon en Lime-ge­bou in Vredestraat het die ses en ander mense saam met hulle op die vloer van die perseel gaan lê, verskeie kantoor­deure versper sodat dit nie oopgemaak kan word nie, terwyl hulle “vieslike skeltaal” teenoor sekuriteits- en ander werknemers gebruik het. Volgens die verklaring kon niemand werk vir die sowat drie ure wat die besetting geduur het nie, terwyl onder andere De Jager, Reginald Smit (direkteur korporatiewe dien­ste), Thomas Matthee (direkteur gemeenskaps­dienste) en ander werknemers onder beledigings, dreigemente en intimidasie deurgeloop het en gedreig is dat van hulle “uitgehaal” gaan word.

Kru taal net in onderklere in munisipale gebou
Phato, wat erge kru taal gebruik het, het haar rok uitgetrek en net in haar onderklere daar gestaan. Sy het in ’n stadium gedreig dat sy haar seun gaan stuur om van die amptenare aan te rand en met ’n mes te steek. “Ons is gedreig dat as ons nie die kontrak stop van mense wat nie van Oudtshoorn is nie, daar dinge met ons gaan gebeur. Ons is mee­gedeel dat as hulle nie die werk kry nie, niemand op die dorp sal werk nie,” lui die beëdigde verklaring.

Daar is ook verskeie dreigemente gemaak dat hulle Matthee met ’n vragmotor se buiteband wat buite by die stoep gelos is, gaan uitbrand.

’n Soortgelyke besetting het op 3 November by die Lemon en Lime-gebou plaasgevind met dieselfde oproerige gedrag en dreigemente teen ver­skeie amptenare soos Murray-Wayne Konnie en Wilton Kawa. ’n Besetting het ook op 9 November plaasgevind, waartydens die Polisie hul hon­de-eenheid saamgebring het.

Op dié dag het Oudtshoorn se onder-burgemeester, Gaven Juthe, en burgemeester, Chris Mac­pherson, ook deurgeloop. Die groep het die oggend voor Juthe se kantoor saamgedrom en gepoog om die deur wat gesluit was, oop te dwing, terwyl Juthe geskel en gevloek is en hulle gedreig het om sy kar aan die brand te steek as hy nie uitkom nie.

May, Phato, Harmse, Donson en nog iemand het daarna ’n vergadering van Macpherson met verteenwoordigers van plaaslike regering by Baron’s Palace gaan ontwrig.

Poging om herstelwerk by lughawe te ontwrig
Die ses inwoners het volgens hofdokumente op 12 November ook probeer om herstelwerk aan die aanloopbaan by die Oudtshoorn Lughawe te ont-wrig en het geëis dat dié spesialis-kontrak aan hulle gegee word. Zebra Surfacing wat die spesialis-kontrak gekry het, was in daardie stadium besig om die aanloopbaan te herseël en op te vul volgens streng spesifikasies van Burgerlugvaart.

Sowat 30 mense het die lughaweperseel beset en toegang versper vir vragmotors van Zebra Surfacing wat ’n “premix” vervoer het wat binne ’n paar uur aangewend moes word voordat dit verval. Die koste van die inhoud van elke “premix”-vragmotor was sowat R50 000. Met die hulp van die Oudtshoorn Polisie is egter planne beraam om die vragmotors via ’n ompad by die aanloopbaan te kry. Reëlings is ook getref vir nog sekuriteitsbeamptes om die aanloopbaan te beveilig.

Personeel ontstel, bevrees

“Die optredes van die respondente het nie net myself en die munisipaliteit se personeel ontstel nie, maar het die werksaamhede van die munisipaliteit beïnvloed. Ek as Munisipale Bestuurder kon nie verskeie vergaderings bywoon nie of my werksake vir die dae na behore verrig nie. Verskeie ander werknemers was ook hierdeur ontstel vrees dat die ses moeilikheidmakers sal terugkeer.”

As gevolg van hierdie insidente was die rssersrsmunisipaliteit genoodsaak om ekstra sekuriteit te verskaf by die munisipale geboue om werknemers en eiendom te beveilig.

Dieselfde mense intimideer ook vir Paulse
Hierdie hofbevel is nie die eerste vir drie van die vroulike moeilikheidmakers nie.

Die voormalige munisipale bestuurder, Allen Paulse, het in April 2019 ’n soortgelyke hofbevel verkry teen May, Collins en Phato op grond van hul ontwrigtende en aggressiewe gedrag.

Paulse is egter nie deur almal in die munisipaliteit ondersteun nie, soos nou reeds bekend is. Volgens hom is die vroue ondanks die hofbevel steeds in die munisipale gebou toegelaat en is daar nie teen hulle opgetree nie.

Paulse het Maandag aan Die Hoorn gesê dit het gebeur dat hy by die raadsaal instap vir ’n raadsvergadering en sien dat die drie vroue binne die munisipale gebou toegelaat is. Hulle was glo onder diegene wat verskeie raadsvergaderings ontwrig het. Die hofbevel is in Maart vanjaar deur die munisipaliteit teruggetrek. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Hofbevel teen ses ná doodsdreigemente, aanrandings en beledigings by munisipaliteit"

  1. Francois du plessis | 11/20/2020 at 14:36 |

    Dis baie ontstellend en hierdie persone moes summier gearisteer en in aanhouding bly.Oudtshoorn is nie meer’n veilige dorp nie.
    Selfs dreigemente wanneer jy parkeer en diesulke karwagte nie betaal nie word ons oomensies gedreig. Oudtshoorn het ‘n probleem !!!

Comments are closed.