Nuwe gevalle van Covid-19 in die Tuinroete Distrik
So lyk die toename in nuwe Covid-19-gevalle in die Tuinroete Distrik oor die afgelope twee weke. Bron: Wes-Kaapse Departement Gesondheid – Tuinroete en Sentraal-Karoo
NUWE Covid-19-gevalle het die afgelope twee weke drasties op die dorpe in die Tuinroete Distrik gestyg. Op Oudtshoorn het nuwe gevalle met 161% gestyg wanneer die laaste sewe dae met die vorige sewe dae vergelyk word, op George met 224% en Mosselbaai met 382%.
Die Wes-Kaapse regering het Dinsdag (17 November) ’n dringende waarskuwing uitgereik met die distrik wat nou as die grootste Covid-19-brandpunt in die Wes-Kaap geïdentifiseer is. Die Groter Oudtshoorn en Kannaland is deel van die Tuinroete Distrik.
Chris Macpherson, Oudtshoorn se burge mees ter, het gewaarsku dat dié nuwe skielike styging in Covid-19-gevalle slegs onder beheer gebring kan word as elkeen die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
“Hoewel die Groter Oudtshoorn oor die afgelope twee weke die tweede laagste toename in nuwe gevalle in die distrik gehad het, naas Kannaland wat geen nuwe gevalle bygekry het nie, bly ons besorg omdat ons baie Covid-19-sterftes ervaar,” sê Macpherson.
Die Groter Oudtshoorn het al 112 Covid-19-sterftes sedert die aanvang van die pandemie gehad, die tweede meeste na George se 125.
Macpherson het sy stem dikgemaak oor die wyse waarop inwoners die Covid-19-regulasies verontagsaam.
“Ons kan Covid-19 net wen en na normaal terugkeer as ons saamwerk.
Almal van ons wil die tweede golf van die virus vermy, maar die manier waarop mense optree, gaan ons beslis na die tweede golf van die virus neem.
“As ’n mens rondloop, sien jy baie mense sonder maskers rondloop.
Besighede het mooi bordjies wat aandui dat net mense met maskers mag binnekom, maar hulle dwing dit nie af nie en laat mense sonder maskers in hul winkels toe. Ek wil almal in die Groter Oudtshoorn munisipale gebied versoek om te voldoen aan die basiese vereistes van Covid-19 – om maskers te dra, hande te ontsmet en sosiale afstand te handhaaf en so die aantal Covid-19 infeksies te probeer verminder.”
Ook die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het ’n beroep op inwoners van die Tuinroete Distrik gedoen om hul deel by te dra om die styging van Covid-19 te stop.
“Dit is nodig dat elke enkele inwoner van die Tuinroete Distrik en besoekers aan die streek moet help om hierdie styging te stuit deur altyd jou masker in openbare plekke te dra, byeenkomste van mense en besige plekke te vermy, veral as daar swak ventilasie is; ’n afstand van minstens 1,5 meter te handhaaf en hande gereeld met seep en water te was.
“As u siek voel, bly tuis en as u simptome ervaar, skakel die noodlyn by 080 928 4102 vir raad en wat om volgende te doen.” (Deur Liesel le Roux)
