Covid kelder Eden Straatmylreeks

Vanjaar se Desember-vakansie gaan meer ge­demp wees vir van Suid-Afrika se atlete nadat die Eden-straatmylreeks vandeesweek weens die Covid-19-pandemie ontspoor het.

Volgens Dave van der Walt, operasionele be­stuur­der van die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) wat dié straat- en baanmylreeks organi­seer, het die reëlingskomitee na vele pogings om die reeks vanjaar te red, besluit om dit eerder te kanselleer en ’n groter reeks in 2021 aan te bied.

“Atletiek Suid-Afrika en Atletiek SWD het toestemming vir die baanbyeenkoms op Oudts­hoorn gegee, maar ongelukkig het die Klein Karoo-straatmyle op Oudtshoorn en die ATKV-straatmyle op Hartenbos in die slag gebly. Omdat dit as ’n reeks aangebied word om dit meer koste-effektief vir die atlete te maak, is daar besluit om eerder die reeks te kanselleer,” sê Van der Walt.

Volgens Van der Walt was daar geen alternatief nie. “Alle moontlike opsies is oorweeg. Daar is ook met die primêre borge gekonfereer en hulle was dit eens dat die organiseerders die beste besluit geneem het,” sê Van der Walt.

Volgens Van der Walt is die KKAF dankbaar teenoor alle rolspelers wat positief was oor die reeks en gewerk het om dit te laat realiseer. “Die reëlingskomitee het tot op die laaste vir oplos­sings gesoek. Alle reëlings was reeds getref, die borge het bankvas agter hulle gestaan, plaaslike instansies het alles in die stryd gewerp en die media het hulle werk gedoen – maar tevergeefs!”

Hans van der Veen, KKAF-voorsitter, het te midde van die teleurstelling sy positiwiteit oor 2021 se reeks uitgespreek en beloof dat dié reeks “groter en beter” gaan wees. (Deur Stefan Skapie Goosen)