SEDERT die lyk van die 60-jarige George Pietersen op 5 November in ’n oop stuk veld langs die munisipale depot in Dassieweg op Oudtshoorn, gevind is, het talle inwoners aangedui daar is ’n vermoede by baie dat Pietersen beroof en met ’n mes gesteek is.
Daar is selfs gerugte dat daar beeldmateriaal bestaan van verdagtes waar hulle Pietersen se lyk neersit op die plek waar hy gevind is. Die Oudtshoorn Polisie sê egter dit is bloot net gerugte.
“Die lykskouingsverslag is baie spesifiek dat dit honde is wat sy wonde veroorsaak het. Die lykskouing het geen aanduiding gevind van messteke nie,” sê kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder.
Volgens Visser is ’n geregtelike doodsondersoek geloods nadat Pietersen se lyk gevind is.
“As daar mense is wat enige inligting het, moet hulle die polisie inlig sodat ons dit kan ondersoek,” sê hy.
Pietersen se liggaam met verskeie oop wonde is deur twee mans ontdek wat omstreeks 08:00 op pad was werk toe. Hulle het ’n sekuriteitsbeampte by die depot gevra om die Polisie te skakel.
“Die oorledene is dood weens trauma aan die nek wat veroorsaak is deur ’n hond of honde. Die polisie gaan voort met ’n geregtelike nadoodse ondersoek,” het Visser op 6 November gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)