TWEE motorfietsryers van Oudtshoorn het Sondag (15 November) ’n noue ontkoming gehad toe hul motorfietse op die Kango Grotte-pad naby die Ou
Tol gegly en hulle teen die veiligheidsreling langs die pad gebots het.
Derick “Oom Sol” Trimm (50) en Garnett Wicomb Jnr (18) was na ’n middagrit tot by Wilgewandel onderweg huis toe toe die ongeluk volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, omstreeks 14:30 op ’n skerp draai plaasgevind het.
Volgens Garnett se pa, Elroy Wicomb, het sy seun voor gery toe sy motorfiets blykbaar op los klippies gegly en hy geval het. Trimm wat net agter hom gery het, het ook gegly en geval.
Die twee is nie ernstig beseer nie.
Trimm het ’n enkelbesering en skaafmerke opgedoen terwyl die jong Wicomb sy linkerbobeen gebreek het.
Garnett het Maandag (16 November) ’n operasie wat sowat vier ure geduur het, in die Mediclinic Klein Karoo ondergaan waartydens ’n ysterpen in sy bobeen geplaas is.
Hy het Dinsdagoggend reeds sy eerste fisiote-rapie-sessie gehad en sterk volgens sy pa goed aan.
Trimm sterk by die huis aan. (Deur Garnett Wicomb)