SY is bekend as een van De Rust se kunstenaars, dié vrou wie se skilderye van Karoohuisies en lappieslanderye landwyd bekend is en wat ook al jare kinders van dankbaarheid laat glimlag.
Hoekom? Want Glendine Chis-holm, as skilder net bekend as Glendine, skenk al die afgelope vier jaar elke jaar ’n skildery aan die organiseerders van die bekende jaarlikse Meiringspoort-wedlope om geld vir die Herberg Kinderhuis in Robertson in te samel. Meer as R210 000 is al so ingesamel.
Glendine is Saterdag (21 November) een van die uitstallers by ’n Vrouedag wat op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word. Sy is ook die illustreerder van die boeke van Tania Smit, een van die sprekers by die Vrouedag.
Glendine se storie oor hoe sy begin skilder het, begin in haar kinderdae in ouma Lizbeth Opperman se ateljee in Windhoek waar sy gesien het hoe “prentjies” lewe kry op doek.
“My familie is nogal kunstig. Ouma Lizbeth se broer was die digter DJ Opperman. Daardie oomblikke in die ateljee was kosbaar. Ek onthou die reuk van terpentyn. Ouma se musiek. Altyd klassiek. Ouma wat skilder. Vir my was daar ’n hele misterie aan alles. Nooit het ek besef dat ek eendag self sal skilder nie.
“My ouers het eers bewus geword dat ek skilder toe een van my werke vir Santam se gesogte kinderkuns-almanak gekies is. Dit was ’n eerste vir Namibië. My ouers was trots, maar kuns was wat hul betref nie werk waarmee ’n mens ’n salaris kan verdien nie.”
Ná skool het Glendine modeontwerp gestudeer. Dit het egter nie uitgewerk nie, en sy het ’n lening by ’n bank aangegaan om kuns by die Pretoria Technikon te studeer.
“Dit was egter eers nadat ek geskei het dat ek besluit het dit is nou of nooit. Ek het toe begin skilder. Die keerpunt was toe ek met vyf skilderye by Alice Art Gallery opgedaag het. Ek wou doodgaan van spanning totdat daar vir my gesê is my werk word aanvaar. Ek sal Alice van Alice Art in Ruimsig altyd dankbaar wees vir wat sy vir my as kunstenaar beteken het.”
Glendine se styl is uniek. Sy beskryf haarself as ’n illustreerder wat skilder. Sy het selfs in New York bekendheid verwerf vir haar skilderye.
“Dit wat ek doen is nie tradisionele skilderkuns nie, maar op ’n weird manier het ek tog daarin ge-slaag om my eie styl te ontwikkel.”
Een van die moeilikste tydperke in haar lewe was na haar seun, Dean, in 2011 in ’n motorbotsing gesterf het. Dean was self in daardie stadium ’n belowende jong kunstenaar.
“Ek het vir ’n jaar lank net vir hom en myself geskilder. Ek moes sy dood deur beelde verwerk. Van die skilderye het ek agterna in plastiek toegedraai en nog nooit weer daarna gekyk nie. Ek glo ook nie ek sal ooit nie.”
• Enkele kaartjies (R200 elk) vir die Vrouedag is nog beskikbaar en voorafbespreking noodsaaklik. Kontak Marita by 0823356059 of info@celebratio.co.za.