LIEFHEBBERS van klassieke musiek kan nog tot 30 November die vier konserte wat as deel van die Klassique Baroque-fees aanlyn aangebied word, kyk. Dié vier konserte is deel van ’n konsertreeks wat Klein Karoo Klassique en die Kaapstad Barokfees met die steun van die Rupert Musiekstigting opgeneem het.
“Die terugvoer op die konserte was uitstaande en hoewel dit net tot einde Oktober beskikbaar sou wees, het ons op versoek dit verleng tot 30 November,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat Klassique aanbied.
Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die Kaapstad Barokfees, sê hy was gelukkig dat hy van sy gunsteling SA musikante kon kies om mee saam te werk in die samestelling van dié program. Elke musikant is uitgesoek vir sy of haar sterkpunte en die eindresultaat is ’n unieke kamermusiekervaring.”
Die vier konserte in die reeks is:
• Misshapen Pearls met Lynelle Kenned (sopraan), Ralitza Macheva en Refiloe Olifant (albei barok-viool) en Erik Dippenaar (klavesimbel).
• Haydn in London met lede van Camerata Tinta Barocca – Liesl Stoltz (dwarsfluit), Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (twee-de viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas) en Erik Dippenaar (klavesimbel).
• 1840 met Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier) – ’n program van lieder en musiek vir soloklavier deur Robert Schumann.
• Histoire du Tango met die Zomari Duo (Bridget Rennie-Salonen op die dwarsfluit en James Grace op die kitaar.
Kry hier kaartjies vir konserte
Kaartjies vir die uitvoerings is tot 30 November beskikbaar en kos slegs R100 per uitvoering, of R300 vir ’n pakket vir al vier uitvoerings.
Koop jou kaartjies by Quicket by die skakel: https://qkt.io/KlassiqueBaroque.
Wanneer jy ’n konsert wil kyk, klik op die groen knoppie (Access stream for this ticket) in jou elektroniese kaartjie wat jy per e-pos sal ontvang.