Thorny Creek en Red Bus Café se plaasmark by Turnberry!

OUDTSHOORNIETE sal vir die res van die jaar nie meer uit die dorp hoef te ry om Thorny Creek Brewery en die Red Bus Café se heerlike plaasmarkte te gaan bywoon nie!

Dié plaasmark, wat bekend is vir sy lekker atmosfeer, craft-bier en verskeidenheid interessante en lekker kos teen sakpaspryse, skop dié Vrydag (20 November) by die Turnberry Boutique Hotel op Oudtshoorn af en vind weer op Vrydag 4 Desember en Vrydag 18 Desember by die hotel plaas.

Die drie heerlike kuiermarkte sal tussen 16:00 en 22:00 plaasvind met lewendige musiek en talle stalletjies met kos, handwerk en kuns.

Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Hotel, sê deur dié mark dorp toe te bring, sal dit nou toeganklik wees vir almal wat nog nie uit die dorp gery het om dit te besoek nie.

“Dié drie markte is die ideale manier om ’n naweek te begin, te ontspan, saam te kuier en sommer ook lekker te eet.”

Mense wat stalletjies wil beman, kan die kontaknommer op die advertensie onder kontak.