Firestones vanjaar se OPL Vlakkiekrieket-kampioene

VANJAAR se Oudtshoorn Premierliga Vlakkiekrieket Ontwikkelingstoernooi (OPL) is Sondagmiddag 22 November met die eindstryd tussen die verdedigende kampioen, Legends, en die Firestones op die oop stuk grond langs 17de Laan in Bridgton voor ’n geesdriftige skare afgesluit.

Firestones het die spannen­de wedstryd met drie paaltjies gewen, met die wenlopies wat in die laaste boulbeurt aange­teken is.

Legends het die loot gewen en danksy Ruduwaan Oktober (38) en Juvandré Tarentaal (17) 100/7 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken.

Firestones moes in die laaste drie boulbeurte nog 29 lopies aanteken en dit was Damion Esau (19) wat soos ’n wafferse AB de Villiers drie agtereenvolgende sesse ge­slaan het om aan sy span die oorwinning te besorg.

Ruduwaan Oktober van Legends is as beste kolwer en Man van die Wedstryd aange­wys vir sy 38 lopies wat drie sesse en twee viere ingesluit het.

Oswald Augulhas, ook van Legends, is as beste bouler aangewys vir sy 2/13 in 4 boulbeurte.

In die uitspeelwedstryd om die 3de en 4de plekke het Dreamteam vir Neppon Warriors met 3 paaltjies geklop.

Warriors is vir 70 lopies uitgehaal waarna Dreamteam 75/7 in 16.5 boulbeurte aan­geteken het.

Gavin Pieterse het namens die OPL die spanne vir ’n dag se goeie krieket bedank en geloof vir hul dissipline en sportmangees. (Deur Garnett Wicomb)