Hawelose man se stryd

Eugene van Vuuren staan by die ingang van ’n bebosde deel in Albertstraat waar hy twee nagte lank skuiling gesoek het, en ’n plek om sy kop neer te lê. Foto: Stefan Skapie Goosen

MOEDELOOS, gefrustreerd, en oorweldig deur vrees en depressie het ’n 47-jarige hawelose man, Eugene van Vuuren, Vrydag (22 Januarie) by Die Hoorn se kantore op Oudtshoorn kom aanklop om hulp. ’n Belofte van werk wat hom van Vereeniging in Gauteng hierheen laat ryloop het, het dié dag deur die mat geval.

Eugene is reeds die afgelope sewe jaar haweloos, en het oorleef deur hier en daar los werkies vir mense gedoen. Die werk op Oudtshoorn, wat hom weer hoop gegee het, was toe maar eintlik net nog ’n terugslag op ’n lang lys van ander wat hom die laaste jare getref het.

“Waarheen nou? Wat moet ek doen, waar gaan ek vanaand slaap?” vra hy moedeloos.

Die enigste opsie vir Eugene, en talle ander haweloses in die Groter Oudtshoorn, is die Ithemba Huis vir Haweloses in Jubileestraat.

Hierdie joernalis het hom daarheen verwys, en geglo hy sou daar hulp kon vind, of minstens ’n veilige plek om sy kop vir die nag neer te lê.

Maandag (25 Januarie) breek aan en ’n bedroefde Eugene stap weer by die kantoor in. Hy vertel dat iemand by Ithemba hom die Vrydag weggewys het, en gesê het dat die mense daar nou goed met mekaar oor die weg kom, en dat hulle nie iemand nuut in die huis wil toelaat nie.

Volgens Eugene het hulle vir hom gesê dat hy eers ’n verklaring by die Polisie moet aflê, en dat hy net toegelaat sal word om by Ithemba te kom slaap as die Polisie hom daar aanbring.

Eugene, wat Oudtshoorn se strate glad nie ken nie, sê hy is polisiestasie toe om die verklaring af te lê met die hoop dat hulle hom dan sou toelaat.

Maar die poging was vergeefs. Hulle het hom weer weggewys. Selfs toe die Polisie hom ’n derde keer soontoe neem, is hy ’n slaapplek geweier. Hy het Vrydagaand voor die polisiestasie geslaap met hul toestemming. Intussen, met die heen-en-weer- lopery, is hy beroof van ’n selfoon, sy laaste bietjie kontant, en sy sigarette.

Saterdag breek aan en Eugene sê hy het steeds nie geweet wat om te doen nie. Hy was raadop. Hy het die strate ingevaar om ’n veilige slaapplek te soek vir die naweek. ’n Bebosde deel in Albertstraat, langs die Grobbelaarsrivier met dorings en allerhande gediertes daar rond, het sy slaapplek vir die volgende twee aande geword.

Eugene sê hy het Maandag, voor hy Die Hoorn as sy laaste opsie besoek het, by die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) gaan aanklop om hulp. Hulle kon hom ook nie help nie, sê hy, want volgens die departement val Ithemba reeds jare lank nie meer onder hulle nie. ’n Oproep aan die departement het dit bevestig, en volgens ’n woordvoerder verleen die departement net hulp waar hulle kan. Eugene se enigste opsie was huise vir haweloses in Mosselbaai en George.

Die vraag is, wie gee die inwoners van Ithemba die reg om iemand weg te wys. Oproepe na die DMO, plaaslike ACVV, Famsa en selfs die Oudts-hoorn Munisipaliteit het dieselfde antwoord uitgelok: niemand mag weggewys word nie, en dit is nie veronderstel om ’n permanente woning vir iemand wat daar aankom te wees nie.

Dennis Ngonyama, DMO kantoorbestuurder, het hand bygesit en gereël dat Eugene plek sal hê om te slaap by Ithemba.

Kim Samuels, ’n maatskaplike hulpwerker wat by Ithemba help, sê sy weet nie wat in Eugene se geval gebeur het nie, en het bevestig dat niemand daar weggewys mag word nie. Sy help die hawe loses by Ithemba onder meer om identiteitsdokumente te kry, aansoek te doen vir SASSA-hulp, en om werk te kry.

Volgens Samuels is sy net weeksdae by Ithemba, tussen 08:00 en 16:00. “Die persoon wat daarna verantwoordelik is vir die hek, en om mense in die huis toe te laat, weet die prosedure is om nuwe mense toe te laat nadat hulle polisiestasie toe ge­stuur is om ’n verklaring af te lê. Ons mag nie mense wegwys nie,” sê sy.

Die huis sukkel volgens haar nog meer weens die Covid-19-pandemie, omdat dit slegs deur ’n nie-winsgewende organisasie beheer word, en ’n minimale subsidie by die DMO ontvang.

Eugene was teen Woensdag (gister) steeds op Oudtshoorn, steeds haweloos, en sê hy hoop om binnekort ’n werk te vind wat moontlik sy lewe kan verbeter. Hy was op daardie oomblik “woonagtig” by Ithemba. (Deur Stefan Skapie Goosen)

4 Comments on "Hawelose man se stryd"

  1. I feel for Eugene, but sometimes we as humans forget our humanity against the one another,and life isn’t always fair.good luck Eugene

  2. M.van Coller | 30/01/2021 at 15:41 |

    Wat se werk kan hy doen.

  3. More, wat se werk kan hy doen, dan kan ek ook uitkyk vir hom vir n werk in ons area aangesien hy reeds naby is.

  4. Thank you for sharing this mans story. It can easy happen to any of us.

Comments are closed.