Polisie slaan toe op drankverkope in die Suid-Kaap

Drank waarop die polisie in Knysna beslag gelê het. Foto verskaf

Polisie in die Suid-Kaap het oor die naweek toegeslaan op plekke waar drank verkoop word.

Vrydag het lede van die Eden Kluster se Misdaadvoorkomingspan ‘n Toyota Hilux-bakkie in Knysna gestop nadat inligting ontvang is dat dit drank aflewer nadat bestellings via sosiale media gestuur word. In die bakkie is ‘n paar bottels drank gevind en die 48-jarige bestuurder is in hegtenis geneem vir die oortreding van regulasies van die Rampbestuurswet.

Meer drank is hierna by die bestuurder se huis en in ‘n bergingsplek in die nywerheidsgebied gevind. Daar is tydens die operasie beslag gelê op drank ter waarde van R17 000.

Sondagaand het lede van die George en Conville Polisie 10 bottels whisky en vodka in Knysnaweg, Lavalia in George gekonfiskeer nadat inligting ontvang is dat drank daar verkoop word. Twee mense van 22 en 24 jaar is in hegtenis geneem op klagtes van die verkoop van drank sonder die nodige lisensie.

Die mense wat in hegtenis geneem is, sal eersdaags in die hof verskyn.