DIE Groter Oudtshoorn is Dinsdag teruggeskuif na vlak 4-waterbeperkings nadat die vlak van die Raubenheimerdam tot onder 60% gedaal het. Die daling volg op ondergemiddelde reën die afgelope drie maande, en verdamping en hoër watergebruik as gevolg van hoë temperature.
Einde Oktober 2020 het die damvlak op 77% gestaan.
Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit het slegs sowat 50 mm reën die afgelope drie maande geval teenoor die gewone sowat 100 mm. ’n Paar donderstorms in die omgewing het ongelukkig die opvangsgebied gemis.
Ten tye van lae reënval daal die damvlak met sowat 1% per week. Die verpligte landbouloslatings tussen Desember en Maart elke jaar speel ook ’n rol.
Vergunnings ten opsigte van watergebruik wat einde verlede jaar gemaak is, word ook met onmiddelike effek teruggetrek. Dit sluit die natmaak van tuine met besproeiing asook die volmaak van swembaddens in. Indien die damvlak onder 50% daal, sal die noodtariewe weer in werking tree.
Die gemeenskap word in die verklaring versoek om gehoor te gee en waterbesparing ernstig op te neem. “Sou daar binnekort goeie reën wees en die dam beduidend styg, sal die beperkings onmiddellik hersien word. Inwoners word ook daarop gewys dat oortreding van die beperkings strafbaar is met ’n boete van R1 000. (Deur Liesel le Roux)
Geen sproeiers of vol swembaddens meer

Die dam vlak het so gedaal weens water pype wat gereeld bards en dan vir dae loop in die strate af. Verskoning wat mens kry is dat die lig in die pype moet uit gebloei word, twee dae lank, regtig.
Nou word weer water beperk en regte oorsaak van hoë gebruik nie op die tafel gesit van swak bestuur en beplanning nie.