‘Elke dag ’n bietjie moeiliker’

So lyk die verlate strate van die besige stad Jinzhou. Die foto is geneem vanuit Anchen se woonstel in die stad. Foto verskaf

“ELKE dag raak dit ’n bietjie moeiliker.”

So skryf die jong Oudtshoorniet Anchen Kuyler (24) oor die daaglikse lewe in die stad Jinzhou in die Liaoning-provinsie in China.

Anchen en vier ander Oudtshoorniete wat in die stad woon en skoolhou, haar vriend André Viviers (24), asook Anneke Lategan (25), Juan Viviers (28) en Mondré Engelbrecht (28), is soos almal in China tans as gevolg van die Koronavirus aan hulle blyplekke gebonde.

“Ons mag nie buite ons woonstel wees as dit nie vir iets dringend is nie.
Daar is tandestokkies in ons hysbak wat ons moet gebruik om die knoppies mee te druk. Ons kompleks se hekke is toegebind met draad sodat niemand van buite af kan inkom nie.

“Daar is net een hek oop en as ons wil uitgaan, moet ons in- en uitteken. Wanneer ons wel uitgaan vir inkopies word ons ‘gescan’ vir koors voordat ons die winkel mag binnegaan.

“Die meeste besighede, restaurante en winkels is toe, met net ’n paar wat oop is vir die publiek. Maskers dra en hande was is al soos asemhaal vir ons.”

Sy sê hulle gaan net as dit noodsaaklik is winkel toe.

“Ons kan darem nog kos, water en medisyne kry. Ons sukkel wel om maskers, wet wipes en hand sanitizer in die hande te kry.

“Maar ons is okei vir nou. Dis stresvol, want die syfers bly klim en dit voel of ons vassit. Ons probeer maar besig bly om ‘cabin fever’ te voorkom, maar dit raak soms baie emosioneel en frustrerend.

“Ons waardeer beslis nou die kleiner dinge soos om te kan gaan oefen of om net buite te kan sit. Dis ook moeilik om te sien hoe ons familie hul oor ons bekommer.”

Volgens Anchen is daar nog geen aandui-ding wanneer hulle weer sal kan begin skool­hou nie.

“Sommige berigte sê dinge sal weer reg wees in Maart, maar dit word elke week uitgestel.”

Intussen stuur sy en André videos van die huis af aan hul studente oor hoe om die virus te voorkom om te help om hulle gemotiveerd te hou.

En ja, hulle verlang huis toe.

“Ons wil baie graag net huis toe kom, maar ons het ’n sosiale verantwoordelikheid wat die keuse maar moeilik maak. Ons Suid-Afri­ka­ners hier probeer intussen om mekaar uit te help met kos koop en met mekaar se emosionele welstand.” (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "‘Elke dag ’n bietjie moeiliker’"

  1. Shame sad that such a good effort by the South African youths can be so difficult and impossible to escape when you are there. Especially when they talk about social responsibility.

Comments are closed.