Lewensredders by NA Smit leer by Talya

LEWENSREDDERS en werkers by die NA Smit Swembad op Oudts­hoorn is Dinsdagoggend deur een van die wêreld se bestes geleer.

Talya Davidhoff (29), wêreldre­kord­houer in paalspies- en pylge­weer­hengel, het werkers by dié swem­bad ’n nuwe asemhaling-tegniek geleer wat hulle leer om hul asems langer onder die water op te hou.

Talya verdeel tans haar tyd tussen haar tuisdorp en die Kaap waar haar afrigter woon.

“Dis ongelooflik lekker om terug te wees in Suid-Afrika, veral op Oudtshoorn.”

Sy sê dat die mense op die dorp ongelooflik vriendelik is, maar dat sy veral die son en hitte die meeste van alles geniet.

“Die stad waar ek tans bly, Oregon City in Amerika, het slegs sowat 30 dae sonskyn per jaar; so meeste dae is dit baie bewolk.”

Oregon City is die stad waar die trefferfliek Twilight verfilm is.

Wanneer Talya op Oudtshoorn is, oefen sy haar asemophou-tegniek in die swembad. Sy kan haar asem sewe minute lank, of drie en ’n half lengtes van die swembad, ophou.

Dinsdagoggend het sy haar tegniek tydens ’n tweeuurlange sessie met Mbulelo Xaba (34), Akhulula Njewu (34), Masixole Ngidi (32) en Edwill Britz (32) gedeel.

“Ek wil graag die tegniek vir hulle leer, sodat hulle kalm en langer onder die water kan bly wanneer een van hulle hul dalk in ’n noodsituasie bevind,” sê sy.

Die tegniek begin deur te oefen om jou diafragma te gebruik en jou maag uit te stoot sodat 50% van jou totale suurstofinname daar kan gehou word.

Daarna neem jy ’n groot asemteug in jou longe in, en dan in jou skouer­gedeelte en laastens ’n sluk lug in jou keel en jou mond.

“Dit is baie belangrik om jou asem stadig uit te blaas, sodat jy nie flou word nie,” het Talya aan hulle verduidelik.

Dié tegniek word volgens haar die “peak inhale”-metode genoem.
Na die oefensessie kon die Oudts­hoorniete hul asems twee minute lank ophou.

Wanneer Talya nie soos ’n vis in die water woeker nie, doen sy joga, gaan sy na die gimnasium toe en hardloop sy graag om die tartanbaan om fiks te bly.

Talya keer in April terug na Amerika, en gaan vanaf 23 tot 28 April deelneem aan die Xibalba Freediving-kompetisie in Mexiko.

Slegs 35 duikers mag hieraan deelneem, en die maksimum diepte wat bereik kan word, is 92 m.

Vryduik (freediving) is ’n sportsoort waarin duikers in die diepsee en in swembaddens duik sonder die hulp van enige suurstoftoerusting.

Tayla is ’n oud-leerder van Laerskool van Reede en die Hoërskool Oudtshoorn, en die dogter van Belinda du Plessis van Oudtshoorn.

Sy het ’n graad in marienebiologie, en het ’n groot liefde vir die natuur en die bewaring daarvan. (Deur Angelique Erasmus)