Beskerm elektriese toestelle só teen beurtkrag

EEN van die grootste gevare van beurtkrag is dat dit jou elektriese toestelle kan beskadig. Die gevaar lê by die stuwing in die elektriese stroom (electrical surge) wat deurkom wanneer die krag na afloop van beurtkrag weer deur Eskom aangeskakel word.

Met die voorspelling dat beurtkrag nog baie lank sal duur voordat Eskom se agterstallige opgraderingswerk gedoen is, is dit belangrik dat kraggebruikers weet hoe om elektriese toestelle – yskaste, rekenaars, TV-stelle, ketels ens – te beskerm teen dié stuwing in die elektriese stroom.

Trek kragproppe uit
Skakel alle elektroniese/elektriese toestelle af en trek al jou kragproppe uit die muur wanneer beurtkrag begin. Wag totdat die krag weer deur Eskom anageskakel is voordat jy dit weer inprop. Moenie die kragprop net afskakel en in die muurprop los nie; dit bied nie beskerming teen die elektriese stroom nie.

Alternatiewelik kan al die skakelaars op jou kragbord wat aandui dat dit krag aan kragproppe (plugs) voorsien, afgeskakel word. Of doen sommer beide. Santam beveel aan dat telefone ook tydens beurtkrag uitgeprop moet word.

‘Surge protectors’
Installeer ’n stuwingsbeskermer (‘surge protector’) in jou muurproppe wat jou elektriese toestelle kan beskerm teen die skielike krag­stuwing nadat Eskom die krag weer aanskakel.

Jy kan ook een installeer in jou verdeelbord (distribution board) wat jou hele huis beskerm, maar hulle is heelwat duurder en jy moet ’n elektrisiën kry om dit te kom installeer. Daar is tans ook goeie veelvoudige propverdelers wat oor ’n ingeboude kragstuwing-funksionaliteit beskik.

UPS vir rekenaar en TV
Jy kan vir jou ’n UPS (ononderbroke elektriese toe­voer) aanskaf vir jou rekenaar. Maak seker die UPS het ’n ‘surge protector’ in.

• So word beurtkrag plaaslik beheer
Die Hoorn het talle navrae van lesers ontvang oor wie die elektrisiteit vir beurtkrag aan- en afskakel. Dit word plaaslik deur tegnici van Eskom gedoen volgens hul nasionale beurtkragskedule.